As ‘n mens sien wat in die wêreld aangaan, kan jy soms moedeloos raak en in ‘n spiraal van pessimisme vasgevang word.
Boonop is ‘n mens hierdie tyd van die jaar moeg gewerk en dít help ook nie juis om ‘n silwer randjie om ‘n donker wolk te probeer raaksien nie. Die gesprek met Schalk Bezuidenhout – ‘n skerpskertser (lees op bl 8 wat hy oor dié woord te sê het) – het ons aan snaakse, skerp en grappige sêdinge wat mense al kwytgeraak het, laat dink en oor dié eksamenflaters het ons kliphard gelag. Hierdie week lag ons dus ‘n bietjie om goedvoelhormone af te skei in ‘n wêreld waar dit soms nodig is om lekker te kan lag.
Sokrates was ‘n beroemde Griekse wydsheid wat rondgeloop en mense raad gegee het. Hy is dood aan ‘n oordosis willekeur. Ná sy dood het sy loopbaan dramaties agteruitgegaan.
Wat is regoorstaande hoeke? Dit is hoeke wat vir mekaar kyk.
In watter jaar het Suid-Afrika ‘n unie geword? Ek weet nie, Meneer. Maar ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwejaar vir Meneer en Meneer se gesin.
Waarom moet rekenaargebruikers gereeld rugsteunkopieë maak? Sodat hulle nie rugpyn kry nie.
Maak ‘n sin met “ter aarde bestel”. Wie op ter aarde bestel so ‘n groot koek?
Die grootste soogdiere word in die see gevind omdat ‘n mens hulle nêrens anders kan neersit nie.
Oorsake van die Koue Oorlog? Die son het nooit geskyn nie, die mense het warmte gesoek, die mense het so te sê verkluim.
Manlike vorm van ‘n weduwee? ‘n Skaduwee.
Daar is vier simptome vir ‘n verkoue. Twee daarvan het ek vergeet en die ander twee is te bekend om te noem.
Die Grieke was ‘n hoogs gekulde veervolk en sonder hulle sou ons nie ‘n geskiedenis gehad het nie.
Jeanne d’Arc het van ‘n stapel brandwonde gesterf. Sy was Noag se suster.
Om ‘n goeie verpleegster te wees, moet jy absoluut steriel wees.
Die grootste skrywer van die Renaissance was William Shakespeare. Hy is in die jaar 1564 gebore en party mense dink dit was op sy verjaardag. Hy het nooit geld gemaak nie, en is net beroemd oor die toneelstukke wat hy geskryf het. Hy het tragedies, komedies en historektomieë geskryf. Romeo and Juliet is een voorbeeld.
Poësie is wanneer elke lyn met ‘n hoofletter begin en nie by die regterkant van die bladsy uitkom nie.
‘n Sirkel is ‘n lyn wat sy ander end ontmoet sonder om te end.
Bronne: www.mieliestronk.com; www.onniesonline.co.za; www.roekeloos.co.za
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.