Voor jy hier verder lees, blaai eers na bl 12 en lees die storie oor ‘n jong vrou se ervaring wat Carien Grobler geskryf het. Jy gaan, soos ek, effens na jou asem snak as jy dit klaar gelees het.
Ek is seker die meerderheid lesers gaan met my saamstem – dis materiaal vir ‘n boek. Hoewel die Engelse gesegde “stranger than fiction” onwillekeurig by my opkom. Sulke stories kan ‘n mens nie uitdink nie. Dis amper te “sleg” om waar te wees. Helaas is dit nie fiksie nie. ‘n Mens se eerste reaksie is een van veroordeling. Hoe kan ‘n ma so iets doen?
My seun het my ‘n paar jaar gelede ‘n baie wyse les geleer. Ek en my dogter het by hom in ‘n ver land gaan kuier waar hy toe gewoon het. Op ‘n baie klein eilandjie waar almal op die broodlyn leef. Die meerderheid plaaslike inwoners van daardie streek se lewens verskil radikaal van my en my kinders s’n. Dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar, is vir baie net drome. Baie van die mense op die eiland en van die omliggende eilande is verslaaf aan kristal-metamfetamien. Dis is maar een vorm van die dwelm metamfetamien en mense neem dit in deur dit te snuif, rook of in te spuit.
Gebruikers ontwikkel ‘n sterk drang na voortdurende gebruik, want dié dwelm gee jou ‘n vals sin van geluk en selfvertroue, gee jou energievlakke ‘n hupstoot en onderdruk jou aptyt. Die effek bly vir ses tot agt uur, maar kan selfs vir 24 uur aanhou. Metamfetamien begin reeds van die eerste keer af om die gebruiker se lewe te verwoes. Dis dus nie vreemd dat die gebruik van hierdie dwelm onwettig is nie. Dis gif. So sit ons een aand en kuier waartydens hy dié goed vertel. Ek snak toe sommer weer na my asem toe hy my vertel dat daar van die plaaslike mense is wat hy ken wat ook hieraan verslaaf is.
Gawe, liewe, opregte mense. Soos ‘n ma uit ‘n ander wêreld, wil ek dadelik “fix” en hiermee bedoel ek nie “fix” in die dwelmsin van die woord nie – ek bedoel ek wil dié mense se lewens probeer regruk. Ek wil ook by hom weet of hulle dié gif in sy geselskap gebruik. Nee, hulle doen dit nie voor hom nie, want hulle weet wat sy mening daaroor is en hulle respekteer hom te veel om dit in sy teenwoordigheid te doen. Dis waar ek toe die les leer … want enersyds respekteer hy hulle ook om nie te verwag dat hulle moet optree soos in sy wêreld nie. Sy woorde bly my elke dag by: “Hulle weet wat my mening daaroor is. Maar ek kom uit ‘n ander wêreld. Ek kan my net probeer indink hoe dit moes wees om in hul wêreld groot te geword het. En as ek dit doen, kom die vraag by my op: Hoe sou ek gewees het as ek onder dié omstandighede grootgeword het? Ek is baie versigtig om nie my mening, siening van die lewe en waardes as die maatstaf van hul wêreld te maak nie. Daar is ‘n baie fyn lyn tussen ‘n mening hê en ‘n oordeel vel. ‘n Mens hoef nie altyd jou mening te gee nie.”
So, hoe kan ‘n ma iets doen soos Carien Grobler vir ons skryf? Ek weet nie. Ek kan my in daardie situasie glad nie indink nie. Ek regverdig dit geensins nie, maar ek ken Sara se storie glad nie. Wat het in haar lewe gebeur wat haar so afgestomp het dat haar optrede jou na jou asem laat snak? Ek gaan nie dwelms gebruik nie, ek gaan nie doen wat Sara gedoen het nie. In my wêreld is dit ondenkbaar. Maar dis in my wêreld. Voor ons mense veroordeel, moet ons dalk volstaan met slegs ‘n mening, en dit nie noodwendig uitblaker nie. Vir my is die mooiste deel van die storie: “Dan huil ek in my kussing. Baie nagte. Maar die warm lyf langs my bring gerusstelling en ek word telkens weer rustig.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.