Ek het al mense teëgekom wat sukkel of glad nie eens probeer om hul berge uit te klim nie. Die lewe oorweldig hulle en mettertyd is hulle bang vir als – selfs klein heuwels
By Anne Marais se artikel “Klim jou Everest” op bl 24 vind ek aanklank. Niemand ontkom daaglikse, maar ook langdurige uitdagings nie. Ons almal moet elke dag ’n heuwel of ’n berg uitklim en soms staan ons aan die voet van ’n majestueuse berg wat onklimbaar lyk.
Jare gelede, in 2004 om presies te wees, het ek letterlik en figuurlik aan die voet van ’n hoë berg gestaan wat ek moes uitklim. Twee van my drie broers is bergklimmers en saam met dié twee is ek Tafelberg uit. Hoogtevrees het ek nie, maar daardie dag het ek besef ek het “laagtevrees”. Ek kan vreesloos van ’n hoë plek afkyk, maar toe ek dié dag aan die begin van die klim teen die voet van die eerste steil krans staan en opkyk, toe voel dit vir my asof die berg op my gaan omval. Van omdraai was daar nie sprake nie. Vir bang wees (waarvan ek hulle nie eers gesê het nie), was daar nie tyd nie. Klim sou ek klim. Ek het die berg daai dag uitgeklim en toe ek bo uitkom en na Kaapstad doer onder afkyk, het ek geweet ek sal elke berg op my pad kan uitklim.
Hoe het ek bo uit gekom? Trappie vir trappie, vasbeslote en gefokus moes ek dit doen, het ek dit gedoen en hoe verder ek geklim het, hoe kleiner het die berg wat op my wou omval, geword. Maar ook met hulp – ek moes luister na wat my ervare broers vir my sê, want hulle ken die berg en bergklim en ek moes konsentreer op die tree wat ek die oomblik neem, nie dié wat nog voorlê nie. So werk dit ook met figuurlike berge. Ek het al mense teëgekom wat sukkel of glad nie eens probeer om hul berge uit te klim nie. Die lewe oorweldig hulle en mettertyd is hulle bang vir als – selfs klein heuwels. Om jou berge uit te klim, is daar ’n paar dinge om in gedagte te hou:
1 Jy is nie die enigste mens wat uitdagings het nie.
2 Jy gaan dwarsdeur jou lewe uitdagings moet oorkom. Hierdie een is nie die laaste een nie.
3 As vrees jou oorval, gaan jy nie kan klim nie. Jy kan nie vir als in die lewe bang wees nie.
4 Luister na mense wat al soortgelyke uitdagings oorkom het – hul ervaring is nie te versmaai nie. Of dit vriende, kollegas, familie of opgeleide kundiges is.
5 Moenie ’n verskoning of ’n regverdiging vir als vind om nie jou uitdagings te takel nie. My voorstel is om jou “ja, maar …” in ’n “ja, en …” te verander.
6 As jy vir jouself sê “ek kan nie” – sal jy nie kan nie – jy word wat jy praat.
7 As jy jou uitdaging nie takel nie, word dit ’n al groter berg.
8 As jy wag tot alles “in plek” is voor jy begin, gaan jy nooit begin nie. Dinge val in plek soos wat jy jou berg klim. As jy wil hê als moet uitgesorteer wees voor jy begin, klim jy nie jou berg stappie vir stappie nie en gaan jy of nie bo uitkom nie, of vassit en gered moet word, of afval en jou nek breek. Jy kan gewoon nie aan die voet van ’n berg staan en met een allemagtige sprong bo uitkom nie. Dis nie moontlik nie. Die lewe werk nie so nie.
9 Om ’n doel te bereik of ’n uitdaging te oorkom, verg moeite, inspanning, opoffering, selfvertroue, tyd, geduld, beplanning en fokus.
10 As jy fokus op die struikelblokke op jou pad, gaan jy moed opgee voor jy begin het. Berge het struikelblokke – dis hoe hulle gevorm is. As dit verspot maklik was om uit te klim, het alle mense dit gedoen en was dit nie ’n kuns wat oefening verg nie. Hoe meer jy oefen, hoe makliker en hoe beter kan jy klim. Só werk dit met uitdagings ook – hoe meer jy jou uitdagings takel en met die regte ingesteldheid en toerusting aanpak, hoe makliker en hoe beter leer jy om die lewe te navigeer.
11 Jy hoef nie jou berge uit te klim nie, maar dan mis jy iets, want jy kan nie uiteindelik van bo-af na die mooi daar onder kyk nie.
12 Soos als in die lewe het jy ’n keuse – dikwels nie watter berg jy wil uitklim nie – maar óf jy wil klim. Jy kan kies om permanent in die krans voor jou vas te kyk en net dit en niks anders te sien nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.