Hoekom is daar mense wat beter in die lewe cope as ander?
Dis ’n vraag waaroor ek onlangs gaan nadink het en ek het tot die slotsom gekom dat die woorde “sterk” en “swak” niks daarmee te make het nie. Dit het met fiks en onfiks te make.
As jong kind het ek met verstomming gekyk hoe moeiteloos grootmense se hande en voete die ratte en pedale in ’n kar beheer. Dit het vir my bykans onmoontlik gelyk om dit te kan doen – trouens, ek het my ma en een van haar vriendinne eendag gevra hoe kry hulle dit reg en die antwoord dat jy nie eens meer daaroor dink nie, was vir my onverstaanbaar. Nou verstaan ek dit uiteraard, want ek bestuur reeds 39 jaar en dit is soos asemhaal. Wanneer jy leer bestuur, verloop die rit gewis nie seepglad nie; inteendeel, dis aanvanklik rukkerig, die kar stol en als wat jy gelyktydig moet doen, verg geweldige inspanning en konsentrasie en jy kan oorweldig voel. Mettertyd, deur herhaling en oefening, kry jy dit reg en is ratverwisseling en die gebruik van die koppelaar, petrolpedaal en rem outomaties. Die oorweldigende gevoel verdwyn en jy kan fokus op dit wat belangrik is, soos die spoedbeperking, volgafstand, padtekens, verkeersligte en natuurlik idiotiese bestuurders vir wie jy ook moet dink.
So werk dit met byvoorbeeld die fisieke vaardighede van balletdansers, musici, atlete en bergfietsryers. Jy staan nie net eendag op, klim op ’n fiets, ry berge op en dale af, deur modderplasse, op nou paadjies met kranse langs jou nie – jy gaan jou alie sien as jy net op ’n fiets klim en aan ’n bergfietswedren deelneem. Jy moet oefen en fiks en vaardig wees. Niemand trek ’n paar balletskoene aan en dans op hul tone op die maat van Tsjaikofski nie. Jy gaan jou nek breek. Of minstens jou enkel. Buiten om die vaardighede aan te leer om outomaties sekere aksies te kan uitvoer om fiets te ry, ballet te doen, ’n musiekinstrument te kan speel … moet jy sekere spiere ontwikkel en inspan om dit reg te kry en die uitdagings wat dit aan jou stel, te kan hanteer. Die pad na ’n balletdanser se vertoning op ’n wêreldverhoog gebeur nie net nie. Wat ons sien en bewonder, is die skoonheid, die grasie, die perfeksie, die bykans onmoontlike – en hulle laat dit so maklik lyk.
Hoe kry hulle dit reg? Deur oefening en herhaling: jy dans ’n stuk oor en oor totdat jy dit regkry. Maar dit verg ook dat jy fiks moet word om die eise wat aan jou lyf gestel word, te kan hanteer. Dit behels ure se oefening, opoffering, pyn, beserings, uitputting, soms moedeloosheid totdat jy so fiks is dat jou lyf gewoond raak daaraan en jy sekere vaardighede outomaties doen en jy net kan fokus op waarop jy moet fokus. Dis hoe als in die lewe werk. Hoe fikser jy is, hoe makliker gaan dit. So word ons byvoorbeeld ook studeerfiks en werkfiks. As jy nie studeer nie, probeer jy om ’n wedren onfiks aan te pak en dit gaan gewoon nie werk nie.
Dieselfde gebeur met mense wat nie wil werk nie – hulle kan later nie werk nie, so onfiks is hulle – kyk maar na mense in Engeland wat al drie generasies lank op die dole leef. Nou is die vraag: Hoe lewensfiks is ons? Nes ’n balletdanser se spiere ontwikkel om te voldoen aan die fisieke eise wat aan jou lyf gestel word, en jy superfiks moet wees, so werk dit met die brein. Hoewel die brein nie ’n spier is nie, maar ’n orgaan, werk dit soos ’n spier. Hoe meer jy jou brein oefen, hoe beter raak jy. In so ’n mate dat sekere aksies, maar ook denke, outomaties gebeur. As jy by herhaling jou brein oefen om op dit wat goed in jou lewe is, te fokus, gaan dit mettertyd jou outomatiese reaksie in die lewe word sonder dat jy eers daaroor dink.
Al gebeur slegte goed met jou. Uiteraard is daar grade van slegte dinge wat kan gebeur, maar net soos ’n balletdanser se beplande optrede deur ’n ernstige besering die dag voor ’n optrede gekelder kan word, kan jy byvoorbeeld ná ’n teleurstelling weer opstaan en dans. As jy aanmekaar gif in jou lyf inneem, gaan dit jou doodmaak, of ten minste baie siek maak. As jy byvoorbeeld te veel drink, te veel eet, dwelms gebruik of medisyne in oormaat neem, kan jou lyf nie fiks raak nie – trouens, jou lyf raak so gewoond daaraan dat jy ontrekkingsimptome kry as jy dit nie inneem nie. Jy kan dan nie behoorlik funksioneer nie, laat alleen fietsry of dans.
So werk dit as ons aanmekaar op die slegte in ons lewe fokus. Ons vergiftig ons lywe en dit raak soos ’n verslawing. Oefening stuur seine na jou brein om goedvoelhormone in jou lyf af te skei. En, sê die mense wat weet, hierdie gevoel kan jou ook verslaaf, maar dis nie sleg vir jou nie – inteendeel. Dieselfde gebeur met positiewe denke en hoe meer jy oefen om op die goeie in jou lewe te fokus, hoe positiewer gaan jy raak, al breek jy jou enkel. Aan die ander kant werk herhalende negatiewe gedagtes dieselfde as te veel drank, dwelms of medisyne. Jy kan later nie daarsonder nie. Jou brein is te geoefen daarin. Tensy jy ’n doelbewuste poging aanwend om van hierdie soort verslawing ontslae te raak, gaan dit jou mettertyd vergiftig. Die manier waarop jy jou brein oefen, gaan bepaal watter denke en aksies mettertyd outomaties raak. Hoe lewensfikser jy is, hoe beter kan jy cope.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.