As kinders het ek en my drie broers die tye wat ons nie in die skool was nie, buite gespeel. Deesdae het kinders al van kleins af hul eie selfone en tablette
As kinders het ek en my drie broers die tye wat ons nie in die skool was nie, buite gespeel. Ons het geswem, tennis gespeel en ons met fantasiespel besig gehou. Ons het fiets en kaskar gery. ’n Sandput het ons ure se pret verskaf. Uiteraard was daar 50 jaar gelede nie vandag se tegnologie nie. As jy wou speel, moes jy kreatief wees en goeters maak en bou. En toentertyd kon kinders wêreldwyd nog alleen op hul fietse ry of stap om by maats te gaan speel.
Vandag is daar net te veel bose mense wat kinders ontvoer en doodmaak. Dis jammer, want om sonder skoene buite te speel en met boublokkies, Meccano en pophuise binnenshuis te speel of boeke te lees as dit te erg reën, is iets wat menige kind vandag nie doen nie. Deesdae het kinders al van kleins af hul eie selfone en tablette. Die vaardigheid waarmee hulle met dié briljante tegnologiese uitvindsels omgaan, is verbysterend. Ek dink egter dikwels aan die mense wat vir die tegnologiese ontploffing van die afgelope dekades verantwoordelik was.
Hierdie mense is diegene wat kreatief moes dink om te speel. Dis hulle wat nie met die druk van ’n knoppie of die gly van ’n vinger op ’n skerm onmiddellike resultate kon sien nie. Net tyd sal leer watter uitvindsels kinders wat van kleins af behendig is met al wat skerm of elektroniese apparaat is, mee vorendag gaan kom. Dalk met nog indrukwekkender goeters, maar ek dink tog hulle het ’n gemis in hul lewe omdat hulle so afhanklik van tegnologie is en dikwels min of glad nie die grond onder hul kaal voete voel en planne moet maak om besig te bly nie. Die waarde van na aan die natuur leef, kan jy nie in geld omsit nie.
Antoinette Pienaar het in 2001 ’n radikale stap geneem en gaan gesond word in ’n plek waar tyd, gejaag en mededinging nie deel van die lewe is nie. Selfs elektrisiteit is nie deel van haar bestaan nie. Ek is nie heeltemal seker of ek só na aan die natuur wil leef nie, maar tog hunker ek na ’n eenvoudige bestaan met min goeters, stres en eise. En Maandagoggende is dié hunkering groter as ander dae. Hoekom waag diegene van ons wat so voel, nie die sprong nie? Het ons te afhanklik geword van wat ons dink noodsaaklikhede is? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat my seun die afgelope sewe jaar in Suidoos- Asië woon en hy en sy vrou tans op soek is na ’n stukkie grond waar hulle ’n duiken- joga-skool kan oopmaak. Hul besittings pas in hul rugsakke en hulle dra een paar plakkies tot dit gedaan is, en koop dan ’n nuwe paar.
Tydens ’n onlangse besoek wou ek weet of hy nie ’n paar jeans wil koop nie, waarop sy antwoord was: Nee, ek het dit nie nodig nie. Het ons als nodig wat ons het of het ons dit net omdat ons dit wil of kan hê? ’n Paar jaar gelede het ek spottenderwys gesê ek gaan ’n kiosk op ’n eiland oopmaak en smoothies verkoop. My klerekas sou bestaan uit plakkies, ’n sarong en ’n swembroek. Wie weet? Dalk sien jy my en my geliefde eersdaags iewers op ’n eiland agter die toonbank van ’n klein kiosk, met vrolike musiek uit die jare toet wat speel. Bruingebrand, gesond, gelukkig, vry en ongebonde. Dís hoekom ek nie op Maandae groot besluite moet neem nie, want my generasie se fantasieë het drome en toe planne geword.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.