Orden jou lewe in net tien minute, sê Benescke Janse van Rensburg in haar artikel dié week op bl 16. Vir my klink tien minute effens optimisties.
Die afgelope drie maande as Immaculate op ‘n Woensdagoggend by ons huis opdaag om weeklikse huistakies te verrig waarvoor ons nie tyd het nie, kyk sy my beskuldigend aan oor my studeerkamer. Haar naam is immers Immaculate. Die saak staan so: Een van die dinge waarop ek my roem, is my organisatoriese vermoëns. Ek hou van orde. In my huis en in my kantoor. Elke ding het ‘n plek en ek kan my vinger op van ‘n buisie Super Glue in die huis tot ‘n finansiële staat van 2010 in die kantoor lê. Immaculate en my geliefde kollegas gaan nou sê ek lieg blatant, want my studeerkamer en kantoor skep tans gewis nie daardie indruk nie.
Dis Suze Orman wat etlike jare gelede gesê het die toestand van jou beursie is ‘n weerspieëling van jou geldsake. Wel, dan is ek in ‘n benarde situasie, want newwermaaind my beursie, my handsak maak my op die oomblik bang. Als wat daarin moet wees, is daarin, maar ook als wat nie daarin hoef te wees nie. Dis ‘n sak vol chaos. En my beursie in my handsak? Dié is dolleeg, want als wat daarin moet wees, het ook al uitgeval en lê diep onder en tussen goeters: kwitansies, tissues, kougom, pille, brille, sleutels … Suze is reg – my leë beursie is inderdaad ook ‘n aanduiding van my leë bankrekening, maar dis ‘n saga vir ‘n annerdag. Dié dat ek die Vrouekeur-spanlede so ‘n dag of wat gelede mooi gevra het dat hulle onmiddellik eers my handsak moet omkeer en regpak as ek nou iets sou oorkom, want g’n respektabele mens kan sterf en só ‘n handsak agterlaat nie.
Lees jy Benescke se artikel van voor tot agter, kom jy agter die tien minute se orden van jou lewe gaan oor veel meer as net ‘n netjiese studeerkamer, kantoor of handsak. ‘n Deurmekaar omgewing, weet ek, oorweldig my in so mate dat ek inderdaad ‘n deurmekaar kop kry. My kop voel tans soos my handsak – vol chaos. En hoe deurmekaarder my kop raak, hoe minder sien ek kans vir die deurmekaar studeerkamer of handsak. Dis goed wat ek van myself weet – vandaar my beheptheid met orde. Hoe gebeur dit dan dat ‘n mens se lewe so deurmekaar begin raak? Hoe gebeur dit met iemand wat dink sy is supergeorganiseerd? Het ons te veel hooi op ons vurk en te min tyd? Of werk dit soos ‘n kredietkaart?
Jy sien nie die skade onmiddellik as jy koop nie – dis eers as jy jou maandelikse betaling moet doen, wat jy agterkom hoeveel geld jy nou eintlik uitgegee het en wat die skade is. En dat dit lank gaan neem om die minus voor die bedrag in ‘n plus te verander. Ek dink dis wat dit is. Ons loop maklik die ekstra myl vir werk, kinders, geliefdes, familielede … maar ons gun onsself nie daai tien minute per dag om orde in die chaos van die lewe te skep nie. En voor ons ons oë uitvee, sit ons met baie meer as tien minute se chaos om te orden.
So lees ek nou die dag die volgende raak: “Jy kan nie uit ‘n leë koppie skink of drink nie. Sorg eers vir jouself.” Ek dink dit beteken jy moet onthou om jou energiebatterye te laai, want as dit pap is, kan jy niks doen en niemand help nie. As ‘n mens se batterye gelaai is, kan jy beheer neem van dié goed wat jy in ‘n onbeheerbare wêreld kan beheer en voel jy minder oorweldig. En dan hoef jy nie elke Woensdag vir Immaculate te verduidelik hoekom die studeerkamer lyk soos dit lyk nie. Want die plek lyk mos “immaculate”.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.