Daar is baie artikels in hierdie week se uitgawe wat ek kan uitlig as moet-lees. Die een wat persoonlik tot my spreek, is: “Die Dene se geheim”
Nadia de Kock het gaan ondersoek instel hoekom die mense in Denemarke so gelukkig is. Hul resep is nie ingewikkeld nie. Dit beaam vir my dat eenvoud die antwoord in die lewe is. Die Amerikaanse psigiater Morgan Scott Peck skryf só in sy boek The Road Less Travelled: Life is difficult. This is a great truth, one of the greatest truths. It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it. Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult. Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.
Baie mense in my lewe (ek inkluis) het dae wat ons oor die sin van ons bestaan wonder. As jy eksistensieel dink, begin ons eintlik die dag van ons geboorte sterf. As mens daarop sou fokus, is die kans groot dat jy in ’n groot swart gat beland en die lewe uiters ongelukkig deurworstel. Geluk is ’n relatiewe begrip en al beweer my geliefde tong in die kies dat hy die kans sal waag om te bewys dat geld geluk kan koop, sou hy die Lotto wen, is geld nie geluk nie. Weliswaar kan ’n gebrek aan geld die lewe nog moeiliker maak, maar ek weet van te veel miljardêrs wat bitter ongelukkig is. Selfs al besef hulle dit nie.
Ek weet ook van mense wat ’n baie eenvoudige bestaan voer en sielsgelukkig is. Dit beteken nie ons hoef almal ons besittings te verkwansel en op ’n onbewoonde eiland te gaan woon nie, maar vir my het die gesegde “less is more” deesdae al meer waarde. Ek wil al minder goeters hê en al meer gehaltetyd. Dalk is dit omdat mens ouer word en besef dat daar inderdaad ’n einde aan jou lewe gaan kom en dat die tyd wat jy oor het, nuttig moet wees. Die einste Peck het ook gesê: Until you value yourself, you won’t value your time. Until you value your time, you will not do anything with it.
Of dit nou ons Calvinistiese streep is wat bykans deel van ons DNS geword het en of dit ’n gejaag na geld en sogenaamde sukses is, weet ek nie, maar die meeste mense wat ek ken, dink dat dit tydmors is as jy nie produktief is nie. Die Dene weet dis onsin. En ons kan maar luister wat hulle te sê het. Hulle is immers bo-aan die lys van gelukkige mense. Hulle laat nie toe dat die lewe hulle rondjaag nie. Vir hulle is hygge so deel van hul menswees dat dít in hul DNS gaan sit het. Dis nie net eenvoud en tyd anders gebruik wat hulle gelukkig maak nie – daar is soveel wat ons by hulle kan leer.
Die punt is: Hulle skeep hulself nie af nie, sloof hulself nie af nie en is nie verslaaf aan die konsep van produktiwiteit ten koste van die mens nie. Doen jouself ’n guns en lees die artikel op bl 24 om agter te kom wat is hygge en hoe dit tot geluk bydra. Ek gaan van vandag af doelbewus ophou hyg na my asem en ’n lewe van hygge leef.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.