Die reuk van leerskoene in ’n skoenboks vat my onmiddellik terug na my skooldae en gee my ’n gevoel van ’n nuwe blaadjie omslaan, orde en beheer
Teen die einde van elke Desembervakansie het ek ’n paar keer per dag my nuwe skoolskoene vir die jaar uit die boks gehaal en dié reuk was tekenend van ’n nuwe jaar en ’n nuwe begin. Tydsaam en met presisie het ek my kleurpotlode skerp gemaak en gesorg dat my pennesakkie (ek was toe al mal oor sakkies) gepak en gereed is. Ek kon nie wag om my klasrooster op die eerste dag te kry (daai dae is dit nog afgerol) om dit netjies uit te sny, in my dagboek te plak en ’n raam om te trek nie.
Stadig maar seker het my dagboek vol geraak en die orde het in ’n onseker en onbeheerbare wêreld by my ’n gevoel van sekerheid en beheer geskep. Baie water het sedertdien in die see geloop. Daardie ietwat onseker dogtertjie het ’n hele paar lewenslesse geleer en onder meer agtergekom daar is net een sekerheid in die lewe en dis verandering. En sy het ook geleer dat jy niks regtig beheer nie. Sy het mettertyd besef dat orde haar manier is om sin in ’n chaotiese wêreld te maak. Dis hoekom ek tot vandag toe aan my jaarlikse dagboek van papier klou. ’n Dagboek op my rekenaar of foon werk nie vir my nie. ’n Outydse dagboek maak die daaglikse oorlading van impulse en die oorweldigende verantwoordelikhede en eise hanteerbaar.
As ek deur ou dagboeke blaai, kan ek vinnig sien waar my lewe my onderstebo getol het. Die inskrywings is woes en oraloor. Hierdie jaar, het ek besluit, gaan dit nie gebeur nie. Ek gebruik vir etlike jare al ’n Moleskinedagboek wat in die agterste sakkie velletjies met plakkers in het. Die plakkers het ek nog nooit gebruik nie. Tot hierdie jaar. Twee van die nuwe neigings in ’n gelaaide elektroniese wêreld met skerms is om te ontlaai en daar is ’n teruggryp na skryf met ’n pen op papier. Dit het die Moleskine-boeke nog ’n stap verder gevat en ’n nuwe neiging is ’n bullet journal. Gaan Google dit gerus. Vir my werk dié konsep uitstekend. Dit dwing my om onversteurd my lewe in oënskou te neem en in ’n besige omgewing stil te raak en net te fokus. Dis nie bloot ’n vinnige gekrabbel in ’n dagboek in ’n poging om dinge te onthou nie, en ’n aksie wat net deel van die daaglikse gejaag is nie. Dis ’n skeppingsproses en ’n proses van nadenke.
Dit bring my in voeling met my menswees. Elke mens se bullet journal lyk anders, want ons kreatiwiteit en persoonlikhede verskil. Dit het my hierdie jaar al groot bevrediging verskaf en ek voel in beheer, hoewel ek weet ek nie is nie, maar dit orden my kop. Dit bring my na ’n artikel in hierdie week se uitgawe “Word jou eie beste vriend”. My geliefdes en kollegas weet al dit is my lewensfilosofie. Ek sê dikwels spottenderwys (many a true word spoken in jest), dat ek my eie grootste maatjie is. Maak geen fout nie, ek dink vir geen oomblik alle mense op my pad dink ek is so fantasties soos wat ek dink nie, en daar is etlikes wat my filosofie gewoon as arrogansie sal beskou.
Ek het bloot geleer, met al die water wat in die see geloop het, dat die stroom jou dikwels kan meesleur en jy moet water trap totdat jy dink jy kan nie meer nie en in die proses sluk en stik jy boonop aan die water. Of dit nou in my persoonlike of professionele lewe was of is – as ek nie van myself gehou het nie, sou my selfwaarde ’n groot knak gekry het in dié tye en ek twyfel of ek uit die diepe waters sou kon kom. Glo my, my daaglikse inskrywings in my dagboek was dikwels die ankers in wilde waters, dit het my leer fokus en gehelp om my ’n gevoel van beheer in ’n onbeheerbare situasie te gee. Ek hou my dagboeke.
Daar is egter een jaar waarin ek die chaos van die jaar kan sien. Daardie jaar se dagboek is eintlik leeg, met net hier en daar ’n halfhartige inskrywing. Dit lyk trouens nog ongebruik. Daardie jaar was ’n moeilike een en ’n jaar waarvan my dagboek tekenend is. Ek het die jaar oorleef. Hier is ek mos. Hoe? Etlike faktore het ’n rol gespeel, maar ek dink wat my staande (of dan nou drywend) gehou het, was die feit dat ek ten spyte van die jaar se uitdagings steeds gedink het ek is my eie beste maatjie. Wat het dit met ’n bullet journal te doen?
Dis heerlik om te sien hoe jou drome, planne, ideale, uitdagings, projekte en takielyste op papier visueel die begin van die verwesentliking daarvan is. Dit lê vir my die grondslag waarop ek stelselmatig die jaar kan bou. Dit dwing my as ’t ware om te werk aan dit wat ek gedoen wil kry. Maar die hele proses gee my opnuut insig in myself en ek sluit lysies en planne en drome in om myself te geniet en verryk en na myself om te sien. Want soos ’n kenner in die artikel “Word jou eie beste vriend” onder meer sê: “Wanneer jy tyd alleen deurbring, sit met ’n pen en papier en skryf neer wat jy dink en wat jy voel. Hierdie metode help om te keer dat jou gedagtes nie rondmaal en met jou weghardloop soos ’n hamster in ’n draaiwiel nie, maar dat jy eerder een vir een gedagte in ag neem en sinvol kan deurwerk.” Dié jaar voel ek soos jare gelede aan die begin van ’n nuwe skooljaar. Opgewonde en geesdriftig oor ’n nuwe blaadjie. Dalk verbeel ek my, maar ek kan sweer ek bespeur die reuk van nuwe leerskoolskoene.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.