Jare gelede het ek as jong 27-jarige Duitsland toe getrek en vir die eerste keer in my lewe met herwinning kennis gemaak
In daai dae was dit glad nie vreemd om in Suid-Afrika nog een of twee swart sakke saam met jou asblik op die sypaadjie uit te sit nie. Die eerste dag in my nuwe tuiste maak ek toe ook so, en die platgedrukte bokse van die trek is ook deel van die bababergie op die sypaadjie. Ek dink nie ek was al terug in die huis in nie, toe die telefoon lui. My eg Duitse buurvrou het my vriendelik, dog ferm, vertel dat dit ontoelaatbaar is. En sy merk dat ek bottels, plastiek, blik en papier boonop bymekaar weggooi.
Die begrip “… das gibt’s doch gar nicht …” het ek daardie dag vir die eerste keer gehoor en eiehandig kennis gemaak met Duitse presisie en sosiale polisiëring. Glo my as ek sê, Duitsers het geen probleem daarmee om vir mense wat nie die reëls nakom nie, te sê: “… dit kan tog hoegenaamd nie …” en jy maak nooit weer daai fout nie. Van daardie dag af is ek ’n ywerige herwinnaar. Bykans 30 jaar gelede het die Europeërs al besef dat die mensdom hul eie nes bevuil. Die gemors wat ons weggooi, neem dekades om afgebreek te word (indien ooit).
Donnay Torr se artikel oor hierdie onderwerp gee ’n duidelike prentjie van die katastrofale afmetings wat gemors in die wêreld aangeneem het. Gelukkig het Suid-Afrika nou ook die erns van die saak besef (weliswaar is ons een van die agterosse in die kraal) en net hierdie week het ek op sosiale media gelees dat vanaf 1 Julie hierdie jaar, herwinning in Johannesburg verpligtend gaan wees. Ná my les destyds in Duitsland, is hierdie nuus vir my verblydend en het ek ’n kans om eerste prys te kry, want … In ons huis is daar ses houers vir vullis: ’n blik waarin al die komposhoop se goed beland, een vir plastiek en blik, een vir papier, een vir glas, een vir batterye en gloeilampe, en een vir dít wat nie in die ander vyf blikke pas nie. En bewaar jou siel as jy die goeters meng … das gibt’s doch nicht!
Dinsdae word die vullis in ons straat verwyder. Die feit dat mens in dié land in vullisdromme moet krap om aan die lewe te bly, is op sigself ’n storie en ek wil sê: Dit kan tog hoegenaamd nie! Maar daar is ook diegene wat entrepreneurskap aan die dag lê en ’n hele subkultuur het ontstaan. Oral in die land is daar mense wat tuisgemaakte waentjies rondtrek om plastiek, blik, glas en papier te herwin. Ek twyfel of dié mense weet van die oseane wat elke dag plastiek op strande uitspoeg en wat nie net die seelewe bedreig nie, maar ook die voortbestaan van die mensdom. As jy jou brood (van botter is daar nie sprake nie) verdien deur kilometers agter vullis aan te loop, is die voortbestaan van die aarde nie hoog op jou prioriteitslys nie. Vir jou is herwinning ’n middel tot ’n doel – jou eie oorlewing – van dag tot dag.
My lewe het sedert daai oggend in Duitsland wye draaie gemaak, maar die Duitsers se sin vir orde en presisie is sedertdien deel van my alledaagse bestaan. Die man wat Dinsdae sy opwagting by ons hek maak, weet al hy hoef nie in ’n asblik rond te krap nie. Als is netjies gesorteer, en die vullisdrom het net een klein sakkie onderin. Ek is nie dik van die lag as mense in die straat hul ongesorteerde vullis in ons leë asblik kom gooi nie. As ek die skuldiges net kan betrap, het ek vir hulle vyf woorde: “Das gibs’t doch gar nicht.” Maar hulle sal dit nie verstaan nie, nie omdat dit ’n vreemde taal is nie, maar omdat hulle gewoon ongeërg is en nie verstaan dat daar iets soos sosiale verantwoordelikheid is nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.