Geniet jy jou werk? vra Theresa van Baalen dié week. En, sê sy, “… as jy, soos baie ander, voel dat jou werk nie noodwendig die hoogtepunt van jou dag is nie, lees verder.”
Tensy ’n skatryk, kinderlose groottante haar hele fortuin aan jou bemaak het toe sy die tydelike met die ewige verwissel het, of as jy die Lotto gewen het, is jy, soos ek, deel van die massa wat moet werk om die pot aan die kook te hou. Ek wonder soms wat ek sou doen as ek oornag miljoene in my bankrekening sou kry. Sal ek ophou werk? Ja, vir minstens drie maande om goeters gedoen te kry waarvoor ek lus het, maar nie voor tyd het nie. Soos ek myself ken, sal ek ná dié sabbatsreis kriewelrig raak sonder die roetine van werk.
Teen dié tyd weet mense wat my ken dat ek baie van my werk hou, maar ek sal jok as ek sê ek het nog nooit lus gevoel om net my goed te pak en te loop nie. Dít voel almal wat ek ken van tyd tot tyd, want jy bly ’n werknemer en nie ’n werkgewer nie. Ek het dit al gesê, maar ek sê dit weer: Richard Branson is vir my die voorbeeld van hoe ek sou wou optree as ek die eienaar van my eie onderneming was.
Hoe jy mense behandel, gaan bepaal hoe gelukkig of ongelukkig hulle is. As alle werkgewers Richard Branson se ingesteldheid sou hê, dink ek baie meer mense sou hul werksplek as ’n gelukkige en veilige omgewing ervaar het. Selfs sonder afgestorwe groottantes en die Lotto. Mens hoef net ’n paar van dié suksesvolle sakeman se beginsels te lees om te weet dís hoe ’n goeie werkgewer moet dink.
Lei mense goed genoeg op sodat hulle ’n ander werk kan kry, maar behandel hulle so goed dat hulle nie wil loop nie.
As jy na jou personeel kyk, gaan hulle na jou kliënte kyk. Dis so eenvoudig soos dit.
Daar is nie ’n towerformule om ’n goeie maatskappykultuur te skep nie. Die sleutel is: Behandel jou personeel soos wat jy behandel wil word.
Kliënte kom nie eerste nie. Jou personeel kom eerste. As jy leer om jou personeel eerste te stel, sal die res volg.
Jou personeel is jou maatskappy se werklike mededingende voordeel. Hulle is die mense wat die goed laat gebeur – as daar aan hul behoeftes voldoen word.
Moenie werknemers as vanselfsprekend aanvaar nie. As jy jou span nie na waarde ag nie, gaan hulle ook nie jou kliënte na waarde ag nie.
Baie werkgewers dink profyt en produktiwiteit is die noodsaaklikste voorwaardes vir ’n suksevolle onderneming. Ek glo ’n onderneming se langtermynsukses word gebou op personeel wat gaande oor hul werksplek is en kliënte wat gaande oor jou maatskappy se produkte en dienslewering is. 45 12 Hiervan hou ek
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.