Vir ons almal wag daar hierdie jaar opwinding, hartseer, vreugde, verdriet, sukses, probleme, goeie dae, slegte dae …
Tyd, opgedeel in jare, maande, weke, dae, ure, minute en sekondes is mensgemaak en het oor millennia heen so deel van ons geword dat dit bykans ingebore is. Ons is so te sê geprogrammeer om hierdie tyd van die jaar te dink dis “die begin” van iets nuuts aan “die einde” van iets.
Nog ’n jaar is verby en nog ’n jaar lê voor. Onverwagse gebeurtenisse gaan deel van elkeen van ons se 2019 wees. Sommiges kan goed wees, ander nie. Pasiënte wat “flatline”, toon geen hartklop of breingolwe op die monitor waaraan hulle gekoppel is nie. Die lyn op die monitor raak letterlik een streep en het geen op-en-af-bewegings nie. Om te “flatline” beteken jy is dood. So lees ek onlangs die volgende interessantheid raak: “As daar nie oppe en affe in jou lewe is nie, is jy dood.” Met ander woorde, jy kan nie verwag dat jou daaglikse, weeklikse, maandelikse of jaarlikse lewenslyn nie beweging inhou nie. As dít die geval is, “flatline” jy.
Vir ons almal wag daar hierdie jaar opwinding, hartseer, vreugde, verdriet, sukses, probleme, goeie dae, slegte dae … Maak die slegte dinge in ’n jaar ’n mens se jaar sleg? Dit kan. Dit hoef nie. Ek het jare gelede die bekende wysheid van Albert Camus gelees en dit herinner my telkens as ek wil-wil moedeloos raak oor te veel affe en te min oppe in my lewe dat die een nie sonder die ander werk nie. Maar dit herinner my ook daaraan dat dit wat met my in die lewe gebeur, nie my lewe definieer nie. Geluk of ongeluk word nie deur my omstandighede alleen bepaal nie, maar wel deur dít in my menswees wat onoorwinlik is. Mag ons almal hierdie jaar ten spyte van en as gevolg van gebeurtenisse ’n diepe geluk ervaar. ‘
In the midst of hate, I found there was, within me, an invincible love.
In the midst of tears, I found there was, within me, an invincible smile.
In the midst of chaos, I found there was, within me, an invincible calm. I realized, through it all, that…
In the midst of winter, I found there was, within me, an invincible summer. And that makes me happy. For it says that no matter how hard the world pushes against me, within me, there’s something stronger – something better, pushing right back. – Albert Camus
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.