Jy hoef nie buskruit uit te gedink het om te weet dat die situasie in Suid-Afrika ver van goed is en dat daar probleme op elke gebied is nie
Die artikel, “Help, my vriende gaan landuit” op bl 12 is ’n artikel wat my familie en al my vriende mee kan identifiseer, want almal van ons het geliefdes wat die land permanent verlaat het. Ek inkluis.Daar is tans ’n #-veldtog wat die rondte doen waarmee mense mekaar probeer moed inpraat, hoop gee en hul besluit om nie als op te pak en die pad te vat nie, motiveer. Gelukkig is ek nie ’n kuddedier nie, my besluite word nie deur enige groep bepaal nie en hierdie bladsy is nie die plek om my persoonlike mening oor sake heeltemal uit te blaker nie. Dit gesê … Jy hoef nie buskruit uit te gedink het om te weet dat die situasie in Suid-Afrika ver van goed is en dat daar probleme op elke gebied is nie. Die grootste kwessie is uiteraard die vlak van geweld oor alle grense heen. Ek is nie meer lus vir bang wees nie …
My geliefde en ek was weer hierdie jaar vir ’n tydperk op ’n Griekse eiland. Die begrippe “Griekeland” en “eiland”, roep dadelik prentjies van mooi, vreedsaam, rustig, lekker en goed op. En dit is dit inderdaad, maar geen plek op aarde is net wonderlik nie – alle lande het die een of ander kwessie – dit besef ek alte goed. Tog, hier aan die voet van Afrika is dit asof ons probleme ander relatief vreedsame lande se probleme soos kinderspeletjies laat lyk. Griekeland het ook hul probleme, maar in Griekeland is ek nooit bang nie. Ek is nie bang as ek ’n geluid buite die huis hoor nie, ek is nie bang as ek in of uit ons motorhuis ry nie, ek is nie bang by ’n robot, stopstraat of in die verkeer in die vrees dat ’n rampokker gaan toeslaan nie. Ek is nie bang om lang ente in die natuur te stap met geen siel in sig nie, ek is nie bang om my besittings op die strandhanddoek te los en te gaan swem nie, ek is nie bang iemand steel my goed, rand my aan, verkrag my, vermoor my nie.
Uiteraard is daar wêreldwyd misdaad, maar die vlak wat in hierdie land bereik is, is skreiend. Ek is nie meer lus vir bang wees nie … So stap ek en my geliefde een nag skuins ná middernag op die Griekse eiland van die hawe af, waar ons geëet het, hand in hand die bult uit na ons huisie. Dis donker en ons loop al geselsende in die kronkelende nou straatjies. Die Grieke is nie bekend daarvoor dat hulle hul hond se bollie in die strate dadelik optel en in ’n sakkie sit om te gaan weggooi nie. Dis immers nie Duitsland nie. Soos ek gesê het, alle lande het maar probleme … “Liefie,” sê ek, “is dit nie wonderlik dat ons dié tyd van die nag sonder om bang te wees rustig en vreedsaam na ons huisie toe kan loop nie?” My geliefde se reaksie op my opmerking laat my kliphard uitbars van die lag, want dit is so snaaks, maar dis terselfdertyd ’n lag met ’n traan. “Liefie,” sê hy, “my grootste vrees op die eiland is dat ek in hondemis gaan trap.” Ek wil in ’n wêreld woon waar my grootste vrees is om in hondemis te trap. Ek wil nie meer bang wees nie …
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.