As daar een artikel is wat ek hoop dié week ‘n rimpeleffek het, is dit “Die omgeerevolusie”. En as daar een revolusie is wat ek hoop miljoene mense aan deelneem en wat die wêreld gaan oorneem, is dit dié een.
Elke storie van welwillendheid in die artikel op bl 26, het my ‘n gevoel van hoop gegee. Ons leef in ‘n wêreld waar ek te dikwels mense hoor vra: Wat kry ek daaruit? ‘n Vraag wat my van moedeloos tot de joos in maak. Selfsug en selfbeheptheid het boustene van sogenaamde “sukses” geword. Hand aan hand met hierdie eienskappe loop arrogansie, selfvoldaanheid en ‘n gebrek aan selfondersoek.
Dit laat my dink aan ‘n metafoor wat ek etlike jare gelede by iemand gehoor het: Die meeste mense is soos krewe in ‘n mandjie. Hulle vertrap en klim oormekaar om bo uit die mandjie te kom. Ek sou waarskynlik ook minder edele planne gemaak het om uit die mandjie te kom as ek ‘n kreef in ‘n mandjie was, maar ons is nie krewe nie. Ons is mense. Ons behoort van beter te weet. Wat beteken dit om óm te gee? Wat beteken dit om te géé? Ek hou nie van die idee dat ‘n mens iets gee om iets terug te kry nie. Dit val vir my in dieselfde kategorie as: Wat kry ek daaruit? Om te gee omdat jy wil, nie omdat jy moet, of kan, of behoort, of om te beïndruk nie, maar omdat dit gewoon deel van jou menswees is – dít is vir my gee.
Jy gee want jy gee om. Of dit nou tyd, vriendelikheid, hulp, geld, wat ook al is, om ‘n medemens se lewe beter te maak, is om mens en nie kreef te wees nie. As ‘n mens só gee, dink jy nie eens om te vra wat jy daaruit kan kry nie. Op my verjaardag verlede jaar het my seun, sonder dat hy dit weet, vir my die beste geskenk gegee wat hy kan. Een wat geld nie kan koop nie. Ons het om die tafel gekuier en altwee my geliefde kinders en my geliefde het ‘n glasie op my geluk gedrink. Uit die bloute het hy vir my vertel wat ek vir hom in sy lewe beteken. Volgens hom is die belangrikste voorbeelde van menswees wat ek vir hom geleer het medemenslikheid en empatie.
Die rede hoekom ek hierdie baie persoonlike gebeure deel, is gewis nie om ‘n klop op die skouer te kry nie, trouens ek is effens verleë om dit te doen. Ek doen dit egter omdat ek erkenning wil gee aan die persoon by wie ek dié lewensfilosofie geleer het: my pa. Hy is vir my dié voorbeeld van welwillendheid, medemenslikheid, vrygewigheid en empatie. Wat ek uit sy voorbeeld geleer het, is iets wat geld nooit kan koop nie. Wat my uitbring by dit waarmee ek begin het: ‘n rimpeleffek. Omgee gaan nie om dit wat jy daaruit kry nie, omgee bewerkstellig ‘n rimpeleffek wat van ‘n wêreld vol “ekke” ‘nbeter plek vir almal maak. Dis Gandhi wat gesê het: Wees jy die verandering wat jy in die wêreld wil sien.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.