Sir Derek Walcott, Nobelpryswenner vir literatuur in 1992, het gesê: “I read. I travel. I become.”
Daar is so baie boeke wat ek nog wil lees en so baie plekke op my reislys, want ek weet teen dié tyd die invloed van boeke en reise op my lewe is nie net verreikend nie, dis verrykend. Sir Derek Walcott, Nobelpryswenner vir literatuur in 1992, het gesê: “I read. I travel. I become.” Met dié wysheid kan ek net saamstem, want ons is nie – ons word mettertyd.
Indië was nie op my reislys nie. Tot ek die geleentheid gekry het om saam met Linde van Niekerk van Seagull Travel & Tours hierdie land te ontdek. Diegene na aan my weet ek is nie ’n meisie wat goed in groepe werk nie, wat my effens laat wonder het oor saamreis met ’n toergroep. Vir Indië op my eie, het ek egter nog nooit kans gesien nie. Saam met Linde, ’n gesoute reisiger, het dit vir my na ’n uitstekende plan geklink. En toe sy met ons ontmoeting op die lughawe sê: “Ek is nie ’n toertannie met ’n vlaggie nie,” het ek geweet ons is op dieselfde bladsy.
’n Reis saam met Seagull is inderdaad nie ’n stereotipiese een nie. Só sê ek, maar ook al die Vrouekeur-spanlede wat al saam met Seagull na verre lande gereis het. Vrouekeur en Seagull het al etlike jare ’n werksverhouding en ek is nogal kieskeurig oor met wie en wat Vrouekeur saamwerk. Met Linde en haar span werk ons graag saam. Op hul webwerf skryf Seagull dat hul kliënte hul vriende word. Dis inderdaad so, maar meer nog – jy maak ook nuwe vriende uit diegene wat saam met jou reis.
Op bl 40 het ek met ’n beperkte woordtelling iets van my ervaring in Indië probeer weergee. Enersyds as herinnering vir myself, maar ook om diegene wat nog altyd daarheen wou reis, ’n voorsmakie te gee van wat dié land aan besoekers bied. Dalk kry ek dit reg om diegene wat Indië nie op hul reislys het nie, ook te oortuig om dié jaar iets te gaan beleef wat jou nie onaangeraak gaan laat nie. Ek gaan sommer self weer saam!
Onthou! Linde beplan ook ’n toer Marokko toe in November en een van ons spanlede gaan weer saam op nog ’n avontuur. Linde neem hierdie jaar weer ’n groep reisigers Indië toe. Dié avontuur is van 1 tot 15 Desember 2019. Die volledige toerprogram (dieselfde as die een wat ek meegemaak het) en nadere besonderhede is op Seagull se webwerf beskikbaar. (www.seagulltours.co.za)
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.