Dis die eerste week van Desember en die jaar is op die hond se stert. Ek vra myself die clichévraag: Waar het die jaar heen verdwyn? My lyf vertel my sy is moeg en dis tyd vir ’n blaaskans, maar dit was dan nou die dag Kersfees en hier’s ons voor die deur van ’n nuwe jaar. Somer in die noorde van Suid-Afrika beteken reën en donderweer. Ná ’n onlangse behoorlike donderstorm oor ’n naweek sê ek vir my geliefde dat ons so bly kan wees ons het ’n dak oor ons kop in dié weer. Vir baie mense is dit ’n luukse en beslis nie vanselfsprekend nie. Wat my laat dink het oor dit waarvoor ek dankbaar is en wat ek in dié jaar weer besef of geleer het. Ek is dankbaar
1 My kinders is gesond, gelukkig en het hul onderskeie lewensmaats raakgeloop (en ek hou van hulle).
2 My kinders is gaaf, empaties en dink.
3 My kinders het werk.
4 My kinders dink ek is eksentriek en daarvan hou ek (ek pas nie in ’n tipiese ma-boksie nie en van dié raarheid het hulle geërf).
5 My kinders dink ek is wonderlik.
6 My geliefde dink ek is wonderlik.
7 My ouers dink ek is wonderlik.
8 My broers dink ek is wonderlik.
9 Ek het ’n wonderlike geliefde, kinders, ouers en broers.
10 Ek is gesond.
11 My naastes is gesond.
12 Ek het ’n werk.
13 Ek hou van my werk.
14 Ek is mal oor my kollegas by VK én hulle is slim en sonder geite.
15 Niemand loer oor my skouer by die werk nie.
16 Ek het ’n dak oor my kop.
17 Ek hou baie van ons huisie.
18 Ek het kos op die tafel.
19 Ek het ’n kar.
20 Ek het ’n tuin waarin ek kan woel.
21 Ek het soms ’n bietjie geld om mooi goeters te kan koop.
22 Ek het gawe vriende.
23 My geliefde hou van kosmaak.
24 My geliefde kan skottelgoed was.
25 Ek kon hierdie jaar saam met my geliefde Griekeland toe gaan.
26 Ek het besonderse mense in Griekeland ontmoet wat nou vriende is.
27 Ek kan sien.
28 Ek kan hoor.
29 Ek kan loop.
30 Ek kan selfs hardloop en dans.
31 Ek kan proe.
32 Ek kan voel.
33 Ek kan lees en skryf.
34 Ek kan tussen skoon beddegoed slaap.
35 Ek kan warm stort.
36 Ek kyk uit op die tuin wanneer ek stort.
37 Ek kan droom, want ek het hoop.
38 Ek het lief en kan liefgehê word.
39 Ek het ’n ondersteuningstelsel.
40 My bure se honde blaf nie meer 24/7 nie.
41 Die straat waarin ons woon se sypaadjies is mooi gemaak.
42 Ons het WiFi by die huis.
43 As dit reën, lek die dak nie meer nie.
44 Ek kan naweke ’n middagslapie vang.
45 Nie alle mense is korrup en skelm nie (soms wonder ’n mens mos).
46 My kar het ’n flikkerlig (ek sien baie mense op die paaie se karre het dit nie …)
47 Ek het Skandinawiese flieks en reekse ontdek.
48 Ek word nie meer kwaad vir taxibestuurders nie (dit help nie).
49 Ek leer elke dag.
50 Ek leef.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.