Hoe ouer mens raak, hoe meer bewus raak jy van jou eie sterflikheid, veral as mense rondom jou doodgaan
Dood is nie die teenoorgestelde van lewe nie … Die artikel op bl 12 deur Riëtte Grobler “Verstaan die sterwensproses” het my dié week helder aan die dood laat dink. Maar ook aan die lewe.Hoe ouer mens raak, hoe meer bewus raak jy van jou eie sterflikheid, veral as mense rondom jou doodgaan.
Ek maak onlangs ’n lys van mense wat ek geken het of van geweet het wat hierdie jaar oorlede is. Dis ver meer as wat ek op my twee hande kan tel en die jaar is nog nie verby nie. “Ag nee, vrou,” sou jy kon sê, “dis tog te morbied om op hierdie bladsy daaroor te praat. Skryf eerder oor iets opbeurends.” “Skryf oor die lewe,” sê jy dalk. Ek het lank gelede die bekroonde Japannese skrywer Haruki Murakami se woorde oor lewe en dood raakgelees en in een sin het hy dit reggekry dat ek sonder angs oor die dood, maar spesifiek ook oor my eie dood dink.
Hy sê: “Death is not the opposite of life, but part of it.” Dit is ’n mondvol en Murakami kry dit reg om met dié insiggewende wysheid dood nie as iets “daar” te beskou nie, maar net so deel van die “hier” en die “nou”. As Murakami se siening van lewe en dood ook by jou aanklank vind, gaan sy ander wyshede vir jou net soveel soos vir my beteken in ons poging om in die wilde waters van die wêreld te navigeer. Hier’s ’n paar.
Mense sterf die hele tyd. Die lewe is baie broser as wat ons dink. Daarom moet jy ander mense so behandel dat jy nie spyt is oor wat jy gedoen of gesê het nie.
Wat dit ook al is wat jy soek, dit gaan nie wees hoe jy jou dit voorstel nie.
Die lewe is nie soos water nie. Die vloei van gebeure gaan nie noodwendig met die kortste pad gebeur nie.
Maak nie saak hoe ver jy reis nie, jy kan nooit van jouself af wegkom nie.
Soos wat ons deur die lewe gaan, ontdek ons mettertyd wie ons is, maar hoe meer ons onsself ontdek, hoe meer verloor ons onsself ook.
As jy net die boeke lees wat die ander lees, kan jy net dink soos wat ander mense dink.
Bestee jou geld op goed wat geld kan koop.
Bestee jou tyd op die goed wat geld nie kan koop nie.
Pyn is onvermydelik. Om te ly, is opsioneel.
Ek dink soms dat mense se harte soos ’n diep put is. Niemand weet wat op die bodem lê nie. Al wat jy kan doen, is om jou verbeelding te gebruik deur raak te sien wat af en toe na die oppervlak toe dryf.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.