As jy nog nie Irene Fischer se boek, Ek is nog hier, gelees het nie, is dit ‘n gemis in jou lewe.
Ek het reeds etlike maande gelede op hierdie einste blad oor dié merkwaardige vrou geskryf, maar moet weer so maak. Sy beïndruk my gewoon mateloos. Dit was my voorreg om haar drie weke gelede in lewende lywe by die bekendstelling van haar boek in Johannesburg te kon ontmoet. Klein en fyn is sy. Slim en skerp is sy ook. Dan is sy boonop mooi en haar droë sin vir humor laat jou hardop lag. Irene het breinskade. Nadat ‘n trok op 22 Oktober 2009 haar, soos sy sê, haar “in haar dinges in gery het”. Haar storie gaan ek nie hier vertel nie, dit staan alles in haar boek. Dis Irene se storie wat my by hierdie week se skrywe uitbring. Carla van der Spuy se artikel “’n Kopskuif is nodig” gaan oor mense wat breinbeserings en gevolglike breinskade opgedoen het, en hoe dit hulle en hul geliefdes se lewens onherroeplik verander het. Maar dit gaan ook oor die mites oor breinbeserings, hoe mense in hierdie situasie daaroor voel, hoe hulle hul nuwe lywe leer ken en liefkry. Niemand met breinskade het ooit gedink dit gaan met hulle gebeur nie. Dis belangrik dat ons dit onthou. Dit kan in ‘n oogwink met enigeen gebeur.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.