Baie glo die dae van gedrukte boeke, tydskrifte en koerante is iets van die verlede. Ek deel nie daardie mening nie
Ek het nog nooit in my lewe enigiets gebottel nie. Ek kook nie konfyt nie en lê nie vrugte in nie. Duidelik is daar van my vriende wat dit wel doen, soos blyk uit Facebook-plasings waar wavragte vye, tamaties, lemoene, perskes, noem maar op, in die before-foto op ’n kombuistafel lê en die eindproduk neffens netjies gebottel.
Suzanne Crozier wys ons hierdie week hoe om kos in te lê. Ek is seker daar is baie lesers wat gaande gaan wees oor haar resepte. Hoe ouer ek raak, hoe meer nostalgies raak ek. Suzanne se resepte het my baie ver in my verlede ingevat. Ek is in my ouma en oupa se huis, met hoenders in die agterplaas, worshondjies in en uit by die agterdeur. Die horlosie op die kaggelrak kondig die tyd elke halfuur aan en ek verkyk my aan die porseleinfigure in die vertoonkas agter glas waar kinderhandjies dit nie kan bykom nie. In die kombuis sit ek en my oudste broer waar my ouma besig is om vrugte te droog. Net buite die agterdeur is sifdraad staangemaak waarop die voorbereide vrugte in netjiese rye gepak word.
Van gekoopte droë vrugte hou ek nie. Maar daai droë vrugte wat ek en my broer in Desember 1966 in die week van inmaak, inlê, droog en konfytkook geëet het, onthou ek glashelder. Die gedroogde pruime met so ’n surerige smaak was ons gunsteling en die vars tamaties het ons by die hope verorber. Dis die einste ouma na wie ek ure kon kyk waar sy by die kombuistafel sit en gekleurde en blink papier in vormpies sny om tydsaam en met presisie op leë bottels te mosaïek. Deesdae dink ek nogal baie aan haar as ek ná werk en oor naweke met my verfkwas in die hand nuwe lewe aan die een of ander meubelstuk gee. Ek dink nie eers aan die gejaag en stres van die lewe nie – dis net ek en my gedagtes. En moeg raak ek nie; inteendeel, dié skeppingsproses met my hande gee my energie. Die terapeutiese waarde van hand(e)- werk word opnuut in ons moderne era van tegnologie ontdek.
Dis nie meer net oumas wat vrugte inlê, droog en konfyt kook nie. Die generasie (vroue en mans) waarvan Suzanne en my kinders deel is, neig terug na papierdagboeke, hulle brei en hekel, maak hul eie klere, bak brood, maak vars hoemoes en hul eie basiliepesto. Hulle versamel langspeelplate van toentertyd – myne het ’n nuwe tuiste in my dogter en haar man se uitgebreide versameling gevind – hulle koop retro-meubels en verf en timmer self in hul huise. Hulle het groente- en kruietuine en kook nie met kos in blikkies en sakkies nie. Hulle gaan na naweekmarkte, koop vars produkte sonder plastiekomhulsels en hou piekniek. In die mediawêreld is daar ’n frenetiese geskarrel om “digitaal” te wees.
Baie glo die dae van gedrukte boeke, tydskrifte en koerante is iets van die verlede. Ek deel nie daardie mening nie. Ek is ’n voorstander van tegnologie – om oorsee te vlieg is vir my gewis beter as om ses maande op ’n skip soontoe te seil en ek verkies ’n delete-knoppie bo Tippex en ’n tikmasjien. Maar in dieselfde asem is mense soos ek moeg van skerms en instant gratification. Dis hoekom ons ’n boek wil ruik, sien en voel. Dis ons wat gelaaide boekrakke in ons huise gaan hê, al sê die digitale dissipels en profete wat ook al. Desnieteenstaande, my eie seep gaan ek nie kook nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.