Vandat sosiale media die wêreld oorgeneem het, klim al wat mens is op ’n seepkis
Eensklaps is Jan Rap en sy maat kenners op elke denkbare vlak. Nie alle mense moet op ’n seepkis klim nie. En mens hoef nie altyd jou mening te lug nie – soms klink dit beter in jou kop. En politici moet liewers nie twiet nie (hoor jy, meneer Trump?). Afgesien van die miljoene sogenaamde Einsteins op sosiale media, is daar ook diegene wat Facebook as ’n dagboek beskou.
Waar is die dae toe ’n dagboek agter slot en grendel gebêre is? Sê ek, wat elke week my mening gee. Glo my, ek wonder en wroeg menige week oor dit wat ek op hierdie blad te sê het, want dis ook maar ’n seepkis waarop ek klim. My versagtende omstandighede is dat dit deel van my werk is – doen ek dit nie, verloor ek my werk. Wat ek wel die afgelope jare in hierdie stoel geleer het, is dat sosiale media deel van enigiemand se werk in die media is. Ongeag jou persoonlike mening daaroor.
Dit gesê, moet ek erken dat ek op Facebook al op skakels geklik het wat my na inligting geneem het wat ek nie op ’n ander manier noodwendig sou raakgelees het nie. Maar ek lees ook daagliks mense se kommentaar op plasings wat my na my asem laat snak oor die vlak van venyn. Selfs op Vrouekeur se Facebook-blad het ek al kommentaar oor mense op die voorblad gesien wat ongevraag, onnodig en ongepoets is. Gelukkig is dié soort kommentaar in die verre minderheid op ons blad.
Die probleem met sosiale media is dat sommige mense se vingers vinniger tik as wat hul breine werk. Voor mens iets op enige sosialemediaplatform kwytraak, dink ek daar is vyf vrae wat jy jouself moet vra:
1 Is dit nodig dat ek my mening gee?
2 Voeg dit enige waarde tot die samelewing toe?
3 Sal ek dit vir iemand van aangesig tot aangesig sê?
4 Wat is my motivering om dit te sê?
5 Kan dit wat ek sê enige gevolge hê? Ons moet onthou dat alles wat op sosiale media gesê word, vir altyd op Google bly.
So lees ek die volgende oor sosiale media (op sosiale media) raak: Om beroemd te wees op Instagram, Facebook of Twitter is dieselfde as om ryk in Monopoly te wees. Gary Vaynerchuk is onder meer ’n kundige op die gebied van digitale bemarking en sosiale media – hy weet dus gewis meer van hierdie platforms as ek. En hy sê: “Sosiale media is soos kokaïen – onmiddellik bevredigend en uiters verslawend.” En verslawing aan enigiets is gevaarlik.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.