Die strepie tussen ’n mens se geboorte en sterfdatum op ’n grafsteen is simbolies van hoe kort ’n mens se lewe is
En hier is ons bykans aan die einde van die jaar. Ons sê elke jaar dieselfde: Sjoe, die jaar het vinnig verbygegaan. Dis nie altemit nie – dit voel inderdaad hoe ouer ’n mens raak hoe vinniger gaan die tyd verby.
Ek was gister nog 30 en oor twee jaar is ek 60! Hoe het dit gebeur? Tydens my onlangse besoek aan Indië (’n ervaring waaroor ek nog in detail sal skryf) het ek een middag in ’n begraafplaas by ’n klein Rooms-Katolieke kerkie geloop. In Indië is daar verskeie gelowe wat mense sin aan die lewe gee. Die meerderheid mense is Hindoes, maar Islam, Boeddhisme, Sikhisme, Djainisme en Christenskap is ook deel van dié wêreld.
Hoewel openbare verassing die norm in Indië is, kry jy ook begraafplase waar Christene ter ruste gelê word. ’n Begraafplaas gee my ’n rustigheid as ek tussen die grafstene loop en kyk wie se stories klaar geskryf is, maar dit maak my ook van my eie sterflikheid bewus. Die ouer mense se geboorte- en sterfdatums wat op die grafstene aangedui is, se stories was langer as die kinders s’n, en dis nie vir my ontstellend nie. As ek egter sien dat iemand se lewe as kind of jongmens kortgeknip is, maak dit my hartseer.
Soos dié klein mensie wie se lewe op 19 September 2002 begin het en op 20 Februarie 2016 beëindig is. Of dié jongman wat op 19 gesterf het. Ons almal ken iemand, of weet van mense wat hierdie jaar gesterf het. As daar een ding is waarvan ons seker kan wees, is dit die dood. Maak nie saak wat ons geloof of ongeloof is nie. Die strepie tussen ’n mens se geboorte en sterfdatum op ’n grafsteen of die “tot” tussen die twee datums is kort, korter as die datums en is simbolies van hoe kort ’n mens se lewe is. Indië en Mahatma Gandhi is onlosmaaklik deel van mekaar. Dit was aandoenlik om dié nederige mens se laaste blyplek te besoek en te sien waar hy geloop het voor hy geskiet is en sy storie tot ’n einde gekom het.
Tydens my wandeling deur die tuin waar Gandhi geloop het, het ek van sy lewenswyshede raakgelees. Dis universele merkers vir die kompas van jou lewe, maak nie saak aan watter geloof jy behoort of nie behoort nie.
Live as if you were to die tomorrow.
Learn as if you were to live forever.
An ounce of practice is worth a thousand words.
Happiness is when what you think, what you say, and what you do are in harmony.
I will not let anyone walk through my mind with their dirty feet.
Be the change that you want to see in the world.
A man is but a product of his thoughts. What he thinks he becomes.
If you want real peace in the world, start with children.
In a gentle way, you can shake the world.
An eye for an eye will make the whole world blind.
The future depends on what you do today.
To give pleasure to a single heart by a single act is better than a thousand heads bowing in prayer.
Earth provides enough to satisfy every man’s needs, but not every man’s greed.
You must not lose faith in humanity.
Humanity is like an ocean; if a few drops of the ocean are dirty, the ocean does not become dirty.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.