Dié week is Valentyn se invloed weer eens orals te bespeur. Dit wemel van rooi harte, rooi rose, spesiale restaurantaanbiedinge en menige artikel in tydskrifte en koerante gaan oor die liefde.
In ons uitgawe dié week is daar inderdaad ook sulke artikels – van aanlynontmoetings wat tot verbintenisse gelei het en die skrywer Fanie Olivier en sy vrou, Antoinette, wat ná die afsterwe van hul onderskeie lewensmaats mekaar liefgekry en getrou het, tot Maretta Bellingan se komiese kyk na verhoudings en troues.
Wanneer twee mense besluit om saam huis op te sit en ‘n bed en ‘n badkamer te deel, is dit ‘n waagstuk, want niemand van ons kan presies voorspel wat in die toekoms gaan gebeur nie. Dis gewoon nie eenvoudig om dag (en nag) onder een dak saam te leef nie. Daarom is dit belangrik dat jy moet dink waarom jy saam met iemand wil nesskop en hoe julle ‘n verhouding sien. Ek lees onlangs op Facebook ‘nopgewonde boodskap van ‘n jong vrou wat op die dag van die boodskap presies ‘n maand later met die liefde van haar lewe gaan trou. Haar Facebook-vriende se kommentaar daarop is net positief en hulle deel in haar vreugde. Niemand lewer egter kommentaar oor iets wat my opgeval het nie.
Sy rig haar boodskap aan haar geliefde en begin dit met: “Oor ‘nmaand, is ek joune …” Ek betwyfel nie die opregtheid van die liefdesverklaring nie, maar ek glo nie mense begryp die gewig wat woorde soos “joune” en “myne” dra nie. As ‘n mens regtig gaan nadink oor die begrip “joune” en “myne” beteken dit jy besit iets. Dit behoort aan jou – dis jou eiendom. Ek besit ‘n huis en ‘n motor (oukei, slegte voorbeeld, die bank besit dit eintlik), maar ek besit nie my geliefde nie. Hy behoort nie aan my nie en hy is nie my eiendom nie. En ek is ook nie syne nie. As ‘n lewensmaat ‘n besitting is of raak, al is dit onbewustelik, is die kans groot dat begrippe soos “aanspraak” en “vanselfsprekend” ook deel van die woordeskat in ‘n verhouding kan word. En dít is nie woorde wat boustene van ‘n gelukkige verhouding is nie.
Ons kyk op die oomblik na die Amerikaanse reeks Madame Secretary. Ek weet dat veral Amerikaanse flieks en TV-reekse verhoudings onrealisties kan aanbied, maar in dié reeks is die akteurs Téa Leoni en Tim Daly getroud en dalk is dit omdat ek van hulle albei hou dat ek so voel, maar dié TV-huwelik werk vir my. Hulle het uiteraard verskillende geaardhede, maar hulle verstaan mekaar. Hulle ondersteun mekaar, is gaaf met mekaar, respekteer mekaar, kyk na mekaar, moedig mekaar in hul loopbane aan, vertrou mekaar, praat met mekaar, gee mekaar ruimte, beskerm mekaar, lag saam, bekommer saam oor hul kinders se geite, verskil beskaafd van mekaar in argumente, neem mekaar in ag en kan hul hande nie van mekaar afhou nie. Dís mos boustene van ‘n gelukkige en gesonde liefdesverhouding.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.