So twee jaar gelede het Imaculate by ons begin werk. Sedertdien is sy elke Woensdag ’n lig in my lewe – as ek Woensdae van die werk af kom en die resultaat van haar handwerk sien, is ek innig dankbaar én kalm.
Die derde Woensdag nadat sy by ons begin werk het, so vertel my geliefde my, vra sy hom wat ek doen daar waar ek op die trappies in die tuin sit en my koffie drink. Stil en op my eie. “She’s meditating,” sê my geliefde. “What is that?” vra Imaculate. En my geliefde gee vir Imaculate ’n 101 in meditasie en verduidelik aan haar hoekom ek dit doen en wat dit vir my doen. Die vierde Woensdag toe sit Imaculate met haar rooibostee en een van die vele dekortydskrifte in ons huis, rustig by die kombuisblad en “mediteer”. Sy fokus op wat sy proe en lees. Sy raak kalm en is nie gejaag nie, want as dit vir my werk, gaan dit mos vir haar ook werk – hierdie meditasie.
So sit ek en Imaculate elke Woensdag op ons spesifieke plekke waar ons ongesteurd net is. Uiteraard doen ek dit elke oggend – anders is ek minder gaaf met mense deur die dag, maar Imaculate se ritueel is ook nie net tot Woensdae beperk nie. Sê my dogter nou die dag vir my ná ’n Dinsdag wat Imaculate by hulle werk: “Het jy al gesien dat Imaculate voor sy enigiets in die oggend doen haar teetjie drink, ’n dekortydskrif deurblaai en vir omtrent ’n halfuur op haar eie in haar eie wêreld sit? Dis amper asof dit vir haar heilige tyd is.” “Ja,” sê ek. “Sy mediteer.”
Mindfulness is in hierdie gejaagde wêreld van ons deesdae ’n gonswoord. Dis te sê as jou wêreld die Westerse beskouing daarvan is. In ’n ander wêreld, naamlik die Ooste, is hierdie praktyk, genoem aandagtigheid in Afrikaans, reeds eeue oue nuus. Die Ooste is die Weste op baie vlakke ver vooruit, maar omdat dit ander kulture, gebruike, tradisies en gelowe behels, het baie Westerlinge Oosterse sienings gewoon as verkeerd en boos beskou – trouens daar is nou nog diesulkes. Die ironie is, dikwels het Westerlinge nie ’n benul (gehad) wat hulle kritiseer of verwerp nie. En nou, eeue later, kom die Weste agter dat hulle by gebruike en praktyke uit die Ooste kan baat. Want sien, die Weste het ’n tekort aan raad oor hoe om die gejaagdheid en die stres wat die moderne lewe meebring, teen te werk. Vandaar die ondersoek, navorsing en gebruik van mindfulness of dan nou aandagtigheid in die Weste.
En wonder bo wonder werk dit. Wat jou net weer eens wys – ’n mens moet versigtig wees om nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Op bl 20 in ’n artikel juis oor hierdie onderwerp, sê ’n sielkundige, dr Mariki Smith: “Of ons dit nou wil erken of nie, ons het dit iewers verloor. Ons het die vermoë verloor om net te wees – om een ding op ’n slag te doen, om werklik in ’n oomblik te sien, te hoor, te proe, te voel en te waardeer …[o]ns bekommer ons oor ons bekommernisse, raak angstig oor ons angs en raak depressief oor ons depressie.”
Ons gryp na pille, hardloop na dokters, en dink sielkundiges het towerstaffies wat hulle kan swaai om ons wonderbaarlik van dit wat ons jaag, of wat ons najaag, te red. En toe is een van die oplossings van die siekte van ons tyd, al die tyd lankal deur mense in die Ooste uitgedink. Gelukkig is aandagtigheid deesdae iets wat al meer mense wêreldwyd vir hul eie gesondheid en welstand toepas. Jon Kabat-Zinn, wat die praktyk van aandagtigheid in die Weste ná sy kennismaking daarmee in die Ooste aan die gang gesit het, sê van dié praktyk: “Mindfulness is a way of befriending ourselves and our experience.” Voor jy soggens werk toe jaag, oorweeg dit om vir ’n wyle eers net te wees.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.