Die lewe is nie ’n maklike of gelyk pad nie. Dit bevestig Darius Botha en sy vrou, Karin, se storie op bl 12 en die artikel “As jou kind ’n misdaad pleeg” dié week weer eens vir my.
In my lewe het op- en afdraandes my al ’n paar dinge geleer:
1 Die lewe skuld jou niks.
2 Slegte goed gebeur met goeie mense ook.
3 Spyt is ’n emosie wat jy net terugskouend kan ervaar.
4 Jou lewe kan binne ’n oogwink verander.
5 Verandering is die enigste gegewe.
6 Almal dink of doen nie soos jy nie.
7 Nare mense kom soms jare lank met hul optrede en dade weg.
8 Die lewe is nie regverdig nie.
9 Slegte goed wat met jou gebeur, is nie jou hele storie nie – dis soms net ’n hoofstuk.
10 Jy word wat jy dink.
11 ’n Gemoedstoestand is aansteeklik.
12 Party mense het ’n “maar” op alles.
13 Moenie ’n kritiese ingesteldheid met ’n negatiewe ingesteldheid verwar nie.
14 Soms is dit beter en veiliger om gewoon niks te sê nie.
15 Behandel mense soos jy behandel wil word.
16 Die verkryging en hantering van mag sê als oor ’n mens se karakter.
17 Aan sommige mense is daar nie salf te smeer nie.
18 Dit is belangrik om “nee” te kan sê.
19 Skep en soek positiewe energie.
20 Maak jou huis ’n emosioneel veilige hawe.
21 Om iets te probeer red wat nie meer te redde is nie, is nie die moeite en energie werd nie.
22 Verskille hoef nie gevegte te wees nie.
23 Wees gaaf met ouer mense – as jy gelukkig genoeg is, gaan jy ook oud word.
24 Tel tot tien. Soms tot 100.
25 Daar is ’n fyn lyn tussen veroordeling en ’n mening.
26 Nie alle mense hou van jou nie en dis oukei.
27 Vermy energievrate.
28 Moenie jok nie. Dan hoef jy nie jou eie liegstories te onthou nie.
29 Beleef elke oomblik. Jy kan dit nooit terugkry nie.
30 Die lewe is nie swart en wit nie – dis ’n magdom skakerings van grys.
31 Niks is permanent nie.
32 Wroeging, bekommernis en angs maak nie die probleem kleiner nie.
33 Om die bobbejaan agter die bult te gaan haal, vreet energie wat jy kan gebruik vir dit wat jy nou weet.
34 Dit kan met jou beter gaan, maar dit kan ook met jou slegter gaan.
35 Moet niks in die lewe as vanselfsprekend aanvaar nie.
36 Meet mense aan hul integriteit, opregtheid, eerlikheid, medemenslikheid en empatie. Nie aan hul rykdom, status, posisie, kwalifikasies of mag nie.
37 Jy is nie, jy word.
38 Wees gaaf met jouself.
39 Hou van jouself.
40 Moet nooit ophou droom of moed opgee nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.