Niks in die lewe is ’n gegewe nie – dis hoekom ek probeer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie
“Daar is verskillende vlakke waarop met stres gewerk kan word: Ek dink een van die goed wat ek die meeste sal mis as ek die dag nie meer deel van die Vrouekeur-span is nie, is die kameraadskap. Om agt uur per dag in dieselfde ruimte deur te bring, is soms selfs meer tyd as wat jy op ’n dag saam met jou geliefdes bestee. Doen jy dit week in en week uit en jaar in en jaar uit, kan dit nie anders dat julle mekaar baie goed leer ken, verstaan en waardeer nie.
Niks in die lewe is ’n gegewe nie – dis hoekom ek probeer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie. Eweneens neem ek nie die positiewe energie, vertroue, samewerking, vriendskap, ondersteuning, begrip, aanvaarding en humor in ons kantoor as vanselfsprekend aan nie. Ons spot soms dat ons mekaar se beste sielkundiges is, want ons deel nie net ’n ruimte nie – ons deel ons lewens met mekaar. Ons ken mekaar se stories, weet van mekaar se goeie en slegte dae, maar meer as dit – ons voel veilig in ons gedeelde omgewing.
So vertel Christa vanoggend van die plesier wat haar tuin haar gee. Sy het al die ou hout in haar tuin uitgehaal en haar klein tuintjie van voor af begin maak. Waar sy voorheen nie in die tuin wou gaan sit en ontspan nie – dit was nie vir haar mooi en dus nie lekker nie – is dit nou die eerste ding wat sy smiddae doen as sy van die werk af kom. Sy gaan kyk hoe groei die plante en sit daar en herlaai ná die gewoel en spanning van ’n dag se werk.
Ons het weer hierdie week ’n artikel oor stres – ’n tema wat mens gereeld in tydskrifte raaklees, want ons het almal in ’n mindere of meerdere mate stres. Daar is net soveel geskryf oor die waarde van tuinmaak en om tyd in die natuur deur te bring om jou stresvlakke te laat daal. Ek het al agtergekom dat ’n stap ná ’n wilde dag op kantoor in die mooi botaniese tuin in Johannesburg my kalm maak en my gedagtes van daaglikse stres aflei. Of jy nou van die bos, ’n woud, berge of die see (my gunsteling) hou, Moeder Natuur bied ’n verskeidenheid medisyne teen die siekte van ons tyd – stres.
I took a walk in the woods and came out taller than the trees – Henry David Thoreau
Van al die paaie wat jy in die lewe loop, maak seker ’n paar van hulle is grondpaaie – John Muir
Die natuur is die beste plek om gesond te word en te herlaai Daar is nie WiFi in die natuur nie, maar daar is ’n beter konneksie In die woud is jou hart sag. Jy word een met die natuur. Daar is nie plek vir hebsug of woede nie – Pha Pachak
And into the forest I go, to lose my mind and find my soul – John Muir
Diegene wat skoonheid in die natuur raaksien, gaan agterkom dat jy deel raak van die geheime van die lewe self – L Wolfe Gilbert
Die natuur was nog altyd vir my ’n bron van verkwikking, inspirasie, avontuur en ’n vreugde; ’n tuiste, ’n leermeester en ’n kameraad – Lorraine Anderson
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.