Daar is twee dinge wat mense gemeen het. Ons almal word gebore en ons almal gaan dood.
Dis hoe basies dit is. Wat tussen die twee datums gebeur, daar lê ’n oneindige hoeveelheid moontlikhede. Sommige mense se leeftyd gaan in die annale opgeteken word, maar die meeste van ons s’n nie.
Ek het gaan google om uit te vind hoeveel mense wêreldwyd per dag gebore word en hoeveel sterf. Die webwerf www.worldometers. info, gee my toe veel meer inligting as net ’n dag s’n – die syfers vermeerder in minder as ’n sekonde reg voor jou oë. Daar is nie net hierdie statistiek te sien nie, maar ek kon met die skryf van hierdie briefie (14 September 2017 om 10:14) die volgende statistiek oor geboortes en sterftes sien (dis bykans onmoontlik om die presiese getal vas te vang omdat dit so vinnig soos sand in ’n uurglas loop): Vandag se geboortes tot dusver: 164 480 Vandag se sterftes tot dusver: 68 205 Uiteraard is hierdie statistiek net ’n aanduiding, want daar vind geboortes en sterftes plaas waarvan daar nie eens rekord gehou word nie, maar dit gee nietemin perspektief oor die begin en die einde van lewens.
Op 12 September 2017 (eergister) het ek opgestaan en die reuk van die Yesterday, Today and Tomorrow het by die kamerdeur wat op die tuin oopmaak, ingevloei. ’n Geur wat my van kindsbeen af bekoor. Ek is nie ’n wintermens nie en met die aanbreek van somer is dit asof ek uit ’n winterslaap ontwaak en sommer van voor af lus is vir leef en dié struik is my teken dis somer. My dag sou begin met die finale afronding en die neem van foto’s van nog ’n verfprojek vir Vrouekeur en ek het vol lewe kombuis toe geloop – reg vir my oggendkoffie. Ek het vinnig na my foon gekyk om die WhatsApps te lees wat deurgekom het. Hoewel ek vemoed het hy gaan ons groet, was die inhoud van my kollega, Anlie, se boodskap nie deel van my dag se plan nie.
Ivan Naudé, ’n alomgeliefde fotograaf, wat etlike dekades al foto’s vir Vrouekeur se voorblaaie geneem het, is daardie oggend net so ná 06:00 oorlede – toe ek ontwaak het. Kanker is in Januarie vanjaar by hom gediagnoseer en sy reis het daai dag tot ’n einde gekom. Die hartseer oor sy heengaan blyk duidelik uit die boodskappe op Facebook en daardie aand ná werk sit ek in my studio weer met die geur van die Yesterday, Today and Tomorrow, ’n wyntjie in my hand en mooi musiek in my ore. En ek huil. Oor Ivan dood is. So oud soos ek. En ek huil oor die mense wat hom liefgehad het nou sonder hom moet leef. En oor Ivan wat nie nou wou sterf nie. ’n Mens hoor dikwels dat die lewe nie regverdig is nie. Maar eintlik moet ons dit nie eens sê nie. Dis gewoon hoe die lewe is.
Prinses Diana is op 31 Augustus 1997 dood. Die wêreld was in skok en smart. Hoe kon sy dood wees? Het ons nie gedink sy is onsterflik nie? Trouens, 20 jaar later lok tydskrifte, koerante en TV-skerms steeds miljoene lesers en kykers om haar dood te herdenk – sy bly in ’n sekere sin vir ons lewendig. Maar op daardie dag in 1997 en op 12 September vanjaar het duisende “onbekendes” en “bekendes” ook gesterf. Of jy nou beroemd of berug, of nie een van die twee is nie, die dood is ons almal se voorland. Dit maak nie ’n onderskeid tussen goed en sleg, mooi en lelik, vet en maer, ryk en arm, slim of minder slim, bekend, beroemd, berug of onbekend nie. Dis gewoon hoe die lewe is. So laat ons nie wroeg oor die Yesterday nie – dis verby, laat ons nie bekommer oor die Tomorrow nie – ons weet nie wat voorlê nie, laat ons in die Today leef, want ons almal word in ’n stadium statistiek.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.