My fut is effens uit en om hierdie week oor die mooi en die goeie van die lewe te skryf, is vir my moeilik.
Daar is net te veel verskriklike goed wat wêreldwyd gebeur het, gebeur, en glo my, weer gaan gebeur.
Wat mense aan mekaar doen, is vir my onbegryplik. Hoe op aarde kry jy dit reg om doelbewus met ’n voertuig tussen voetgangers in te ry en dan uit te spring en diegene wat jy nie doodgery of vermink het nie met messe af te maai? Wat gaan in jou kop aan om ’n bom aan jou lyf vas te maak en jouself en die mense om jou op te blaas? Hoe siek is jy om ’n vliegtuig vol mense af te skiet of in die lug te laat ontplof? Hoe sny jy ’n gyselaar se kop af en laai die video van die barbaarse daad op die internet? Wat besiel jou om in ’n kuierplek ’n snoekerstok te vat en dit in ’n jongman se oog te steek wat sy lewe net daar kortknip? Hoe ontvoer jy twee studente op ’n universiteitskampus met die doel om te verkrag en te moor?
Nes ek dink dit kan nie erger nie, is daar weer ’n gebeurtenis wat my tegelykertyd woedend en bedroef maak. Maak nie saak wat of in wie jy glo of nie glo nie – maak nie saak uit watter omstandighede jy kom nie – daar is geen manier waarop geweld teen mense geregverdig kan word nie. Maar om te veralgemeen help ook nie. Dit leer gebeure in die geskiedenis ’n mens. Net soos daar in alle ideologiese groepe en in alle omgewings goeie mense is, is daar diegene wat fanaties of gewoon krimineel is. Feit is, hul optrede is nie menslik nie. Dis barbaars. Of dit nou Londen, Parys, Afganistan, Sirië of Stellenbosch is – as jy medemense se lewens so minag, is daar iets in my wat wil hê jy moet op ’n verlate eiland gelos word, saam met al die ander soortgelyke kriminele van oraloor – daar kan julle mekaar uitmoor. Ons is sat van julle.
Maar dan is daar ’n ander deel vir my wat wonder hoe gebeur dit dat ’n onskuldige, pasgebore baba in ’n monster ontaard, terwyl die een wat langs hom/haar gebore is, poog om van die wêreld ’n beter plek te maak en net goed aan medemense wil doen? Ek is bevrees daar is mense wat in die 21ste eeu steeds barbaarsheid openbaar wat sedert die begin van die mensdom afkeurenswaardig was. Die eerste Dalai Lama wat in 1391 gebore en in 1474 dood is, het in sy leeftyd 700 jaar gelede reeds gesê: Liefde en deernis is noodsaaklikhede, nie luukshede nie. Daarsonder kan die mensdom nie oorleef nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.