Wat maak mens gelukkig in jou werk?
As jy oor die naweek tyd het, doen jouself ’n guns (of dalk ’n onguns) en google om uit te vind watter lande en watter maatskappye die beste werksomstandighede (en gevolglik die kleinste personeelomset) het. Nodeloos om te sê, Suid-Afrika is nie op die lys nie. Nie eers naastenby nie. Wat maak mens gelukkig in jou werk?
1 Gesonde werksomstandighede. En hier praat ek nie net van fisieke gesondheid nie (lees meer op bl 14 in die artikel: “Allergies vir jou werk?”). Die man wat die oopplankantoor uitgedink het, was nie so slim as wat hy gedink het nie. So lees ek ’n artikel op die internet, deur die redakteur van The Muse, Alyse Kalish, raak: “This is why so many offices insist on open offices now.” Die skuldige ene is Frank Lloyd Wright wat in 1939 dié simpel plan bedink het. Jeff Pochepan skryf op die Chicago Tribune se webblad in sy artikel “The open office plan is a disaster” presies wat ek van dié praktyk dink. Maar ek brei nou te veel uit. Laat ek by die punt hou en aangaan met die lys.
2 Liniêre bestuurspraktyk.
3 Gebrek aan mikro- en neerbuigende bestuur.
4 Min of geen vergaderings en as dit noodsaaklik is, hou dit kort en by die punt en voer besluite deur.
5 Gebrek aan vrees – veral ’n probleem in ’n hiërargiese struktuur.
6 Bevoegdheid en verantwoordbaarheid van kollegas.
7 Deursigtigheid en ’n sogenaamde oopdeurpraktyk.
8 Erkenning, aansporing en ondersteuning.
9 Praktykervaring deur topbestuur.
10 Vertroue en wedersydse lojaliteit.
11 Voldoende vakansieverlof. En nee, 15 werksdae jaarlikse verlof is nie genoeg nie, veral nie as die dae tussen Kersfees en Nuwejaar verpligte verlof is en van die skamele 15 dae afgetrek word nie. Terloops, dis nie onwettig nie – trouens dis volgens die letter van die wet in Suid-Afrika, maatskappye kan dit afdwing, maar kan dit ook menslikheidshalwe aanpas.
12 Kraamverlof. Terwyl jy google, kyk sommer na dié statistiek ook. Suid-Afrika is weer eens nie op die lys van 100 toplande nie – laat staan nog tien toplande.
13 Medieseskemabydraes deur die maatskappy.
14 Markverwante salaris.
15 Winsdeel of dan minstens ’n jaarlikse bonus.
16 Jaarlikse verhoging (en hier praat ek nie van ’n skamele salarisaanpassing as gevolg van lewenskoste nie. Veral nie as ek dink aan die outomatiese jaarlikse premieverhogings met betrekking to mediese skemas, versekering, bankkoste, en dies meer nie. ’n Jaarlikse salarisaanpassing dek op geen manier sulke stygings in jou begroting se uitgawes nie.
As jy my sou vra wat ek sou doen om van my onderneming ’n sukses te maak as ek die eienaar was, sou ek bogenoemde punte my uitgangspunt maak. Topbestuur en eienaars van maatskappye wat in die verslawende klimaat van neoliberalisme (lees, nuwe voorskriftelike godsdiens) op alle vlakke in ’n onderneming op wins (ten alle koste) ingestel is, gaan lag en die punte wat ek as grondbeginsels vir gelukkige werksomstandighede vir werknemers beskou, as belaglik afmaak.
Maar hoe gaan die gesegde nou weer? ”Wie laaste lag, lag die lekkerste.” Werknemers wêreldwyd is besig om vieslik vies vir uitbuiting te raak. In my maatskappy sal ek Richard Branson se wyshede oral in die gebou sigbaar maak, waarvan dié een my punt onderstreep: Clients do not come first. Employees come first. If you take care of the employees, they will take care of the clients. Want ek glo jou grootste aanwins in ’n maatskappy is gelukkige en gesonde werknemers. Dit het ’n invloed op produktiwiteit, lojaliteit, vertroue en die sogenaamde bottom line. En dít is die bottom line van gelukkige werksomstandighede.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.