Om in ‘n toksiese verhouding te wees, is soos om bietjie vir bietjie elke dag ‘n klein dosis gif in te neem sodat jy later nie eens meer agterkom jy doen dit nie. Is jou verhouding toksies?
Op bl 22 is ‘n artikel waarmee baie van ons kan identifiseer. ‘n Toksiese verhouding is nie tot ‘n liefdesverhouding beperk nie, dit kom in enige verhouding tussen mense voor. Maar hoekom laat ons toe dat ander mense die lewenslus uit ons suig of dat hul gif ons stadig maar seker doodmaak? Ek het ‘n paar wyse woorde hieroor raakgelees en dink die meeste van ons kan uit die artikel in dié week se uitgawe en die aanhalings hier neffens iets leer.
Mense inspireer jou of hulle dreineer jou – kies hulle wyslik – Hans F Hansen
Jy kan nie in ‘n toksiese verhouding floreer nie – Anoniem
Jy moet leer om van die tafel af op te staan as liefde nie meer bedien word nie – Nina Simone
Moenie toelaat dat toksiese mense ruimte in jou kop huur nie. Sit die huur op en skop hulle uit – Robert Tew
Die lewe is te kort om dit met mense deur te bring wat die geluk uit jou suig – Anoniem
Moenie vra hoekom iemand jou aanhoudend seermaak nie. Vra eerder hoekom jy dit aanhoudend toelaat – Robert Tew
Daar is ‘n verskil tussen ‘n onvolmaakte verhouding en ‘n toksiese verhouding – Love Sujeiry
Jy hoef nie skuldig te voel om toksiese mense uit jou lewe te haal nie. Dit maak nie saak of die persoon ‘n lewensmaat, ou of nuwe vriend, familielid of werkgewer is nie – jy hoef nie mense wat jou pyn veroorsaak of klein laat voel ruimte in jou lewe te gee nie. Dis ‘n ander ding as iemand verantwoordelikheid vir sy of haar optrede neem en moeite doen om dit te verander. Maar as iemand nie jou gevoelens in ag neem nie, jou grense ignoreer en aanhou om jou menswees skade te berokken, is dit noodsaaklik dat hulle gaan – Daniell Koepke
Mense wat ander beheer, manipuleer en mishandel, bevraagteken nooit hulself nie. Hulle vra hulself nooit of hulle die probleem is nie. Die probleem lê altyd by iemand anders – Anoniem
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.