Aan die breifront het ons hierdie week groot nuus. En dis nie net nuus vir ervare breiers nie – diegene (soos ek) wat net kan regs en aweregs in reguit rye, kan gerus ook die breipenne vir ’n baie goeie doel nader trek.
In die wintermaande is dit veral mense wat op straat is of sukkel om kop bo water te hou wat swaarkry. Daarom het ons besluit om hierdie jaar vir Mandeladag op 18 Julie ’n projek saam met die ATKV, LAPA Uitgewers en Bargain Books van stapel te stuur en serpe vir liefdadigheid te brei. Lesers (en jul vriende en hul vriende) het tot 18 Julie tyd om ’n serp (of meer as een) vir ’n medemens(e) te brei. Die patrone en al die besonderhede verskyn op bl 59 en vir Engelse vriende en familie (of as jy makliker van ’n Engelse patroon af brei) maak ons dit ook moontlik om deel te wees van hierdie uitreikprojek – die Engelse en Afrikaanse patrone is op ons webwerf beskikbaar (www.vrouekeur.co.za). Kom ons kyk of ons met hierdie projek ’n reuseverskil kan maak!
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.