Hoe breek ‘n mens uit die boks wat jy en ander mense oor die jare vir jou geskep het? vra Shanda Luyt hierdie week op bl 24. En dan is daar die gesprek met Marga van Rooy en haar oudste dogter, Henriëtte Boot, wat op 18 met paranoïese skisofrenie gediagnoseer is.
Of dit nou in bokse of met etikette is, ons hou tog so daarvan om mense te kategoriseer. Ideologie, norme en sosiale konstrukte maak dit maklik om mense in die een of ander boks te druk. Dis hoekom ek verstaan dat Henriëtte sterk daaroor voel dat sy en ander lyers nie skisofrene genoem wil word nie, eerder skisofrenielyers, “want ons ís nie die siekte nie”.
Soren Kierkegaard het gesê: “As jy ‘n etiket om my nek hang, negeer jy my. En dit is inderdaad wat gebeur. As jy iemand in ‘n boks plaas, sien jy nie die unieke mens raak nie.” Thomas Szasz, ‘n bekende psigiater en psigo-analis, het in sy leeftyd gesê: “Om die etiket ‘geestelik siek’ om ‘n mens se nek te hang, is nie ‘n diagnose nie – dit is stigmatisering.” En stigmatisering is iets wat mense doen sonder om te dink. Stigmatisering het selde of ooit ‘n positiewe konnotasie. ‘n Mens is veel meer as deel van ‘n groep. Of jy nou deur medemense in ‘n boks gedruk word, of jouself in ‘n boks gevange hou, g’n mens kan in ‘n beperkte ruimte groei, ontwikkel en gedy nie.
In Harper Lee se wonderlike boek, To Kill a Mocking Bird, is daar baie lewenswaarhede, waarvan twee vir my in die konteks van hierdie skrywe insiggewend is: “I think there’s just one kind of folks. Folks.” Die ander een loop hand aan hand daarmee: “People generally see what they look for and what they hear for.” Dr Wayne Dyer het gesê: “Verander die manier waarop jy na die dinge kyk en die dinge wat jy sien, lyk skielik anders.” Of soos Albert Einstein gesê het: “’n Mens kan nie ‘n probleem oplos met dieselfde denke as waarmee jy dit geskep het nie.” As jy voel die boks waarin jy jou bevind of waarin ander mense jou gedruk het, versmoor jou, dan is Deepak Chopra se wysheid dalk iets wat jy in gedagte moet hou: In plaas daarvan om buite die boks te dink, raak ontslae van die boks. Al beteken dit om uit die boks te klim, jy ook uit jou gemaksone moet klim. Kom ons plak etikette op blikke, bottels en bokse – nie op mense nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.