Ek moes jare gelede ‘n baie groot besluit neem wat baie mense se lewens (myne inkluis) onherroeplik verander het. Dit was nie maklik nie.
Ek kon nagte nie slaap nie en het dan gewonder of ek nie maar die maklike pad moet volg en nié die besluit neem nie. Dan moes ek myself moed inpraat en herinner dat die moeilikste besluit dikwels die regte of die enigste besluit is en dat my besluit nie impulsief, oorhaastig, in woede, ontsteltenis, hartseer of teleurstelling geneem is nie. Ons almal moet elke dag besluite neem – sommige groter as ander. Ons weet nie watter hierdie jaar op ons wag nie, maar of dit nou in jou persoonlike of professionele lewe is, besluite gaan daar wees. En dit gaan nie altyd maklik wees nie. Ek neem besluite met behulp van my morele kompas. My kompas se noord, suid, wes en oos is integriteit, eerlikheid, regverdigheid en medemenslikheid en dis met dié rigtingwysers wat ek besluite op my lewenspad maak.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.