Wat ek op dié blad raaksien, is dat die gesonde stemme min is omdat die siek stemme so baie is en mekaar aansteek. Dis hoe ’n virus ’n pandemie veroorsaak
Ek het hierdie week oor die onderwerp van my skrywe gewik en geweeg. My twyfel is op sigself bevestiging van die punt wat ek gaan probeer maak. Ek wonder oor die reaksie wat my skrywe by sekere mense gaan ontlok.Op bl 14 vertel ’n vrou van haar soeke na identiteit weens die gruwel van apartheid. Oor dié tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis is boeke geskryf, word boeke geskryf en gaan boeke geskryf word, maar dit is nie per se my tema vir die week nie. Dit wat ek op die hart het, is wel ’n uitvloeisel daarvan, maar dis veel meer as dit.
Die koronavirus het baie mense in rep en roer. Enige pandemie is ’n bedreiging. Veral in die 21ste eeu waar ’n virus baie makliker as 100 jaar gelede kan versprei – tegnologie maak dit moontlik. Maar tegnologie in die vorm van sosiale media kan ook ander pandemies veroorsaak. Mense steek mekaar op Facebook en Twitter aan en versprei nuus en fopnuus. Siende dat almal toegang tot dié platforms het, gee almal hul mening. Om ’n mening te hê, is nie die probleem nie. Dis wanneer, waar, vir wie en hoe jy jou mening gee wat die probleem is.
’n Jong Afrikaanse vrou, Anja Picketh, het op ’n Afrikaanse digitale nuusblad ’n brief geskryf oor haar ervaring in China waar sy Engels onderrig. Sy woon reeds geruime tyd in China, wat beteken sy ken die mense in wie se land sy woon beter as die gemiddelde Suid-Afrikaner. Wat haar opgeval het sedert die virus se bekendmaking, is die kommentaar wat sommige (lees baie) Suid- Afrikaners op sosiale-media-platforms lewer. Dié kommentare het haar as Suid-Afrikaner skaam gemaak. Ek haal aan: “Nooit het ek gedink dat ek skaam sal wees om ’n Suid-Afrikaner te wees of so skaam kry vir my mense nie. Ek het in twee gevalle – in ’n sogenaamde Facebook-oorlog – met Suid-Afrikaners betrokke geraak. Mense wat sê ‘die Chinese verdien dit’ en ‘hulle kry dit wat hulle toekom’ – dit van mense wat hulself Christene noem.
Ek het soveel gevoelens beleef, maar (trots) om ’n Suid-Afrikaner te wees, was beslis nie een van hulle nie.” Ek volg nie dié digitale nuusblad nie, en het die berig toevallig raakgelees en wou Anja se brief lees omdat ek ’n goeie idee gehad het waarom sy haar skaam. Ek was nie verkeerd nie en die meerderheid kommentare in daardie stadium onderaan die berig, het haar punt deur en deur bevestig. Dit het my letterlik laat siek voel. Dié digitale blad is in Afrikaans, die kommentators lewer kommentaar in Afrikaans, dus fokus ek my kritiek binne hierdie konteks op mense wat Afrikaans praat en hulle skuldig maak aan kommentaar op sosiale media soos wat ek gelees het. Die algemene kommentaar se trant was, afgesien van oningeligte menings, vol spelfoute, beledigend, arrogant, onmenslik, en plek-plek ontsaglik platvloers, maar meer nog, blatant rassisties en dít onder die dekmantel van Christenskap. Dit skree “ons” en “hulle”. “Ons” is die maatstaf en sogenaamd beskaafd, terwyl “hulle” onbeskaafd is, omdat hulle nie soos die “ons” sou dink, eet, doen en glo nie.
Vir die ons-en-hulle-soort-mense is ek keelvol. Maak nie saak wie jou ons en wie jou hulle is nie. Van ’n eksklusiewe groep wil ek nie deel wees nie. Ons sit met groot probleme in ons land. Een daarvan is dat daar van omgekeerde rassisme gepraat word. Dis egter nie my onderwerp vir vandag nie. My fokus is op die ou soort rassisme. Die soort wat deel van apartheid was. Daar is die persepsie by sommige mense dat apartheid se rassisme steeds aan die orde van die dag is. Die ontkenning daarvan is luidkeels en die omgekeerde rassismekaart word in ’n sogenaamde teenargument gegooi. As ek deel van apartheid se “hulle” was of is en ek lees die kommentaar op Afrikaanse sosiale-media-blaaie, sou ek gedink het dat die groep wat vir my die “hulle” was of is, steeds rassiste is. Wat ek op dié blad raaksien, is dat die gesonde stemme min is omdat die siek stemme so baie is en mekaar aansteek. Dis hoe ’n virus ’n pandemie veroorsaak.
Hierdie voorval noop my op iets persoonliks hier te deel. Hieronder is ’n foto van my geliefde seun, David Hugo Jacobs, en sy vrou, Louisa Xinhua Lee. Hulle woon en werk in Indonesië (’n land wat nou “huis” is), waar hulle dié land se mense, taal, kultuur en gewoontes respekteer. David praat Engels en Afrikaans, verstaan Duits en leer tans Bahasa. Louisa praat Mandaryns, Kantonees, Engels, verstaan Tagalog (en ’n snars Afrikaans) en leer tans Bahasa. Dis duidelik hulle voel nie tuis in enige eksklusiewe groep nie, want as daar een ding is waaroor ek en my kinders se pa saamgestem het, is dat ons nie kinders wou grootmaak wat in terme van “ons” en “hulle” dink nie. En daarop is ek supertrots.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.