Vrouekeur is ’n kollektiewe ongeval met die sluit van Caxton se tydskrifte. Maar ons is nie ’n kollektiewe slagoffer nie
Waar begin ek as dit die einde is? Op Maandag 4 Mei 2020 is die mat onder ons voete uitgeruk en ons snak nog na ons asem. Daardie oggend om 10:00 het ons redakteurs en bestuurders die nuus gekry dat Caxton Tydskrifte toemaak. Bot toe. Binne 20 minute was als verby. Net so. Tjoef.
Dié rimpeleffek van die bom wat daai oggend gebars het, is soos die naskokke wat ’n atoombomontploffing in werking sit. Volgende aan die beurt was die spanlede aan wie ons die boodskap moes oordra – in opdrag stiptelik om 10:00 die volgende oggend. Die vryskutjoernaliste was volgende aan die beurt, maar voor ek hulle kon laat weet, was die nuus al oral op sosiale media ná die uitreiking van Caxton se persverklaring vroeër die oggend.
Intussen moes ons ook die slegte nuus aan die lesers oordra. Die rimpeleffek is nog aan die gang en ons probeer die stukke optel van die skade wat die bom veroorsaak het. Ontploffings rig groot skade aan. Die aarde bly uiteraard om sy eie as draai en die son skyn weer, maar mens probeer ná die ergste skok verby is eers die stukke bymekaarmaak en tot verhaal kom. Blykbaar gaan mens deur verskillende fases in die verwerking van verlies. Ons wissel nog tussen huil en woede. By aanvaarding is ons nog nie. Gelukkig lag ons ook nog deur dit als. Met die toemaak van tydskrifte se deure, het ons nie net ons werk verloor nie. Die wonderlike samesyn en saamwerk elke dag in ons kantoor tussen ons plante, potte tee, grappe, geskerts en harde werk, is weg. Ek dink wat die nuus soveel erger maak, is omdat ons nie in lewende lywe met mekaar kan praat nie. Ons kan nie saam met mekaar huil en vies wees nie. Ons kan mekaar nie vashou en troos nie. Ons sit ingeperk in onsekerheid en nou is ons onsekerheid nog groter. En ons wyn is op.
Vrouekeur is ’n kollektiewe ongeval met die sluit van Caxton se tydskrifte. Maar ons is nie ’n kollektiewe slagoffer nie. Van ’n slagoffermentaliteit hou ek mos niks. Die lewe is nou maar eenmaal nie ’n ervaring wat net seepglad verloop nie. Soms is daar struikelblokke. Party is moeiliker as ander om uit die pad te kry en soms moet jy ’n hele ompad loop of selfs omdraai en kan jy nie by jou oorspronklike plan hou om jou beplande bestemming te bereik nie. Jy bevind jou op ’n vreemde plek. Maar jy het ’n keuse: Jy laat dit werk met Plan B, of jy bly hunker na die bestemming wat jy in gedagte gehad het.
Op ons pad het ons nou ’n massiewe rots gekry wat met ’n aardbewing van die berg afgebreek het en ons pad volledig versper. Ons het skrape en is vaal geskrik van die donderslag soos die rots die grond vlak voor ons getref het, maar die rots het ons nie verpletter nie. Ons is besig om die stof van mekaar af te vee en is besig om te kyk hoe nou verder, want om net voor die rots te bly sit en onsself jammer te kry, gaan ons niks help nie. Gelukkig is niemand dood nie. Dit sou allerverskrikliks gewees het en daai verlies is nie sommer so ’n verlies nie.
Nou hoe nou? Die rots is steeds in ons pad. Ons maak planne, maar dis nie so maklik nie. Planne is nooit maklik nie en nie almal ewe slim nie, want dan het almal net slim planne gemaak en was ons in die eerste plek dalk nie in hierdie dilemma nie. Maar dit is nou hoe dit is. Ons is nou eers besig om te kyk hoeveel water het ons in ons waterbottels oor, want dit mag ’n rukkie neem voor ons verder kan loop. Ons plak intussen pleisters op wonde en soek selfoonsein om hulp te kry, want ons bevind ons in die wildernis. Omdraai is dalk ons enigste opsie, want as ons nie vinnig hulp kry nie, gaan ons water opraak en dan gaan ons planne ook kan opraak. Dan draai ons maar om en vat ’n nuwe afdraaipad en kyk waar ons uitkom.
Ons is nog net nie seker waar dit gaan wees nie. Wie weet, dalk trek Vrouekeur ’n nuwe jurkie aan en maak sy haar verskyning in ’n ander gedaante op winkelrakke. Dit weet ons in hierdie onsekere tyd nog nie. Ons vat dit letterlik stap vir stap. Maar dalk is dit inderdaad die einde van ’n lang pad en is daar nie ’n afdraai nie. Wat ons help, is die duisende boodskappe van bemoediging, meelewing, simpatie, onderskraging en moed inpraat wat ons van lesers, vriende, vreemdelinge en mense in die media en ander bedrywe kry. Dankie vir elke boodskap. Dit help. Dankie ook vir jare se lojale ondersteuning van lesers – ons het elke uitgawe met oorgawe vir julle bymekaargesit.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.