Om aan die begin van ‘n nuwe jaar voornemens te hê, is niks ongewoons nie.
Maar ons is nog nie daar nie.
Kersfees en die Desembervakansie is eers om die draai en ek weet daar is baie mense wat dié tyd van die jaar soos ek voel: oormoeg, oorweldig, oorspanne, oorstuur … En ons moet nog voor die kantoor sluit drie uitgawes afgehandel kry.
Om in een jaar bykans 3 800 blaaie drukkers toe te stuur, kan ’n mens in die pylvak oor die randjie stoot. Dis g’n wonder dat ons gewoon nie kan wag om te gaan vakansie hou nie. Elkeen in die Vrouekeur-span verdien die ruskans. Met dié gevoel van oorvermoeidheid in my lyf, lees ek gelukkig iets raak wat die gedragsielkundige, Trudy Vesotsky, haar aan die einde van 2012 voorgeneem het. Sy noem dit haar einde-van-die-jaarvoornemens en geskenk aan haarself:
1 Ontklotter en vereenvoudig my lewe.
2 Verbeter my gesondheid en welstand.
3 Wees bewus en leef in die nou.
4 Skeduleer meer stil tye.
5 Omring myself met siele wat skitter en vreugdevolle mense.
Dit is die boodskap wat ek nou ter harte moet neem, want as ‘n mens netkin of hernu jou inskrywing teen werk, vriende en ‘n goeie shrink nie! so effens “oor” als is, bestaan die moontlikheid dat jy soos ‘n oormoeë tweejarige huilerig oor als en knorrig vir almal is. Dis dan tyd om terug te kyk en die jaar in oënskou te neem … Jy het ‘n werk. Jy het ‘n dak oor jou kop, kos om te eet, geliefdes, gesondheid … Jy moes nie hierdie jaar voor mal mense uit jou land vlug nie. Jou geliefdes en vriende is nie deur die einste mal mense doodgeskiet of opgeblaas nie. Jy het wonderlike kollegas wat soos elke jaar saam met jou die wa deur die drif trek. Jy leef. Dus gaan dit met jou voor die wind. Die lewe behandel jou goed. Jy het seën in oorvloed.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.