Kan ’n werksplek pret wees? vra een van hierdie week se artikels
In ’n land waar werkloosheid en armoede elke dag sigbaar is, is dit dalk ’n vraag wat na ’n voorreg klink, want ek weet daar is mense wat sal sê, ek wil net ’n werk hê om mee te begin.
Dit is inderdaad so en ’n gelaaide onderwerp wat ’n heel ander debat gaan ontketen. Ek dink die blote feit dat mense toustaan vir werk, gee sommige werkgewers die magsposisie om nie ’n duit om te gee hoe gelukkig mense in hul werksomgewing is nie, want hulle weet en maak dit ook duidelik dat jy maar kan loop as jy nie gelukkig is nie. Dít is nog ’n tema vir ’n brandende debat. Maar kom ek beantwoord die vraag. Ja, ’n werksplek kan pret wees – trouens dit móét lekker wees, want jy bring ’n groot gedeelte van jou dag daar deur.
Uiteraard verskil werksomstandighede en dit is nie in alle werksomgewings moontlik om dieselfde riglyne en grense te hê nie. Wat ek geleer het, is dat hoe gelukkiger mense by die werk is, hoe beter werk hulle. Jy hoef nie buskruit uit te gedink het om dié logika te verstaan nie. Ek wend my telkens tot Richard Branson se ingesteldheid teenoor mense wat in sy maatskappye werk wanneer ek aan werksomgewings dink. ’n Werkgewer wat sê: “Train people well enough so they can leave, treat them well enough so they don’t want to,” klink vir my na iemand saam met wie ek sou kon werk.
Ek is nie ’n aanhanger van werkswinkels, bosberade en spanbounaweke nie (weer eens ’n onderwerp waaroor mens boekdele kan skryf), maar soms is daar iets wat daaruit kom wat tog sin maak. By só ’n geleentheid etlike jare gelede het die aanbieder na bestuurstyle verwys. Volgens haar sou daar drie style wees wat ’n werkgewer/bestuurder in sy/haar werksomgewing met werknemers/spanlede openbaar:
1 Ouer vs kind
2 Kind vs kind
3 Volwassene vs volwassene
As jy ’n greintjie grysstof het, sal jy besef dat nommers 1 en 2 nie tot ’n gesonde werksplek gaan lei nie – pret is nie eens in die prentjie nie. Bestuurders wat die ouer-kind-styl het, se werklike ouer-kind-verhouding by die huis sou ek, om mee te begin, bevraagteken, want sulke bestuurders is meestal outoritêr en hou nie van mense wat terugpraat nie. Ek kan jou amper wed sulke bestuurders se kinders is ook nie gelukkig nie, want hulle het nie ’n stem nie. Hierdie soort bestuurders is gewoonlik clock watchers en maak nooit hul “hande vuil” om saam met ’n span die wa deur die drif te trek nie. Dié soort trap HR se drempel ook deur met warnings wat aan sogenaamde ondergeskiktes gegee moet word. Hulle is mal oor reëls en regulasies.
Die kind-kind-bestuurstyl gee chaos in ’n werksomgewing af – want dit is soos twee peuters (wat nog nie emosionele volwassenheid bereik het nie) wat met onbeheersde vloermoere verskille in die werksplek op katastrofale vlakke besleg. Hierdie soort bestuurders se onvoorspelbare uitbarstings is die enigste voorspelbaarheid in die werksplek. Stilstuipe, ontploffings en trane is deel van hierdie scenario en van leiding is daar geen sprake nie.
Dis net as volwasse mense met mekaar saamwerk wat daar ’n moontlikheid bestaan dat jou werk ook pret kan wees. Sulke werksverhoudings behels verantwoordelikheid, verantwoordbaarheid, wedersydse ondersteuning, begrip, empatie, respek en vertroue. Bestuurders se bestuurstyl bepaal die atmosfeer in ’n werksplek. As daar ’n groot personeelomset in ’n werksplek is, kan jy maar gaan ondersoek instel – die bestuurder se bestuurstyl is meestal die gemene deler in die redes vir mense se bedankings. Om te bedank is nie altyd moontlik nie – ons is terug by die punt oor werkloosheid – maar om vir minstens agt uur per dag in ’n ongelukkige en stresvolle plek te werk, is nie goed vir jou gesondheid nie.
Soos Richard Branson sê: “Too many people measure how successful they are by how much money they make or the people that they associate with. In my opinion, true success should be measured by how happy you are.”
Die lewe is te lank om ongelukkig by die werk te wees, maar soos die Engelse gesegde lui: “Time flies when you are having fun.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.