Die wonder van taal is dat ons kan kommunikeer, maar geen taal het ’n onbeperkte woordeskat nie. Wat beteken ons praat met die woorde wat ons het
Die Afrikaanse begrip vir “disability” is “gestrem”. Albei woorde is vir my problematies. Maar dis hoe taal werk. ’n Woord gee ’n hele wêreld en die konnotasies aan daardie wêreld weer. In hierdie week se uitgawe is daar twee artikels van mense wat as “gestrem” gekategoriseer word. Tracy Todd is in ’n motorongeluk verlam en Christa Swanepoel skryf oor mense met outisme. As jy verlam is of outisme het, is jou wêreld vir ander ’n gestremde wêreld.
Vir sogenaamde “ongestremdes” is dit dikwels moeilik om verby die “gestremdheid” te kyk en die mens raak te sien. Sandra L Westendorf-Coelho, skrywer van die boek, The World According to August – One Good Friend, het ’n kind met outisme. Sy sê: “Autism, is part of my child, it’s not everything he is. My child is so much more than a diagnosis.” Stuart Duncan, ’n Amerikaanse musikant het ook ’n seun wat met outisme gediagnoseer is. Ek hou baie van wat hy oor outisme sê: “Autism is not a disability, it’s a different ability”.
Een van die mooiste verduidelikings wat ek onlangs gehoor het, is van ’n ma wat aan haar kind met ’n gestremdheid die volgende gesê het: “You are different, but not less.” Dié woorde, jy is anders, maar nie minder nie, is tog veel beter as om as “gestremd” gekategoriseer te word. Ek het onlangs ’n verjaardagpartytjie bygewoon. Een van die gaste was saam met sy ouers deel van die geselskap. Dié man loop met moeite en praat met inspanning. Deur die loop van die aand het ek langs hom gesit en ons het aan die gesels geraak. Hy’t my vertel dat hy reeds 22 jaar in ’n ander lyf leef as die een waarin hy gebore is. Op 28 jaar was hy in ’n afgryslike motorfietsongeluk en moes van voor af leer loop, praat, eet … Ons het gesels oor hoe vinnig ’n mens se lewe van “normaal” na ’n “nuwe normaal” kan verander.
Tydens ons gesprek het ek intens bewus geraak van die heel mens binne ’n gebreekte lyf. Sy oë het met my gepraat en my diep geraak. Niks, net mooi niks, vrywaar enigeen van ’n onomkeerbare fisieke verandering nie. Die briljante Stephen Hawking is onlangs oorlede – 50 jaar nadat dokters vir hom gesê het hy gaan nie lank leef nie. Dié fenomenale man se ingesteldheid in die lewe (afgesien van sy superintelligensie) het meisies. my mateloos beïndruk. Meer “anders” kan ’n mens kwalik wees. Jou brein funksioneer perfek, maar jou lyf werk nie saam nie. Tog het hy voluit geleef.
’n Mens word maklik dit wat jy dink en praat. Dis wat taal doen. Die akteur, Christopher Reeve, se lewe het op 27 Mei 1995 radikaal verander. Die een oomblik was hy ’n fikse man, wat ironies genoeg die rol van Superman vertolk het en die volgende oomblik kon hy nie self asemhaal nie. Voor sy dood in 2004, het hy tydens ’n onderhoud gesê: “Some people are walking around with full use of their bodies and they’re more paralyzed than I am”.
Ons almal ken mense “sonder gestremdhede” wat oor onbenullige twak kerm en kla. Ek praat nie van mense in oorloggeteisterde gebiede of mense wat in armoede leef nie. Ek praat van mense wat gesond is en kan loop, sien, hoor, werk, studeer, reis – sonder om daaroor te dink en te wonder hoe hulle dit gaan regkry. Sulke mense se “normaal” word eintlik ’n lewe van gestremdheid. Alles in die lewe word struikelblokke. Dié gestremdheid is omkeerbaar, maar dis soos baie dinge in die lewe ’n keuse. Hulle kies om die min in die lewe te sien.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.