Niemand van ons leef in ’n vakuum nie
So vertel ’n dierbare vriend my so ’n wyle terug hoe ’n opmerking van sy man hom in sy spore gestuit het. Dié vriend het in ’n situasie oor iets kritiek gelewer en soos wat ons almal soms doen, sommer kritiek op ’n klomp ander goed gelewer. Om krities te wees, is nie op sigself ’n probleem nie, maar dit kan gebeur dat omstandighede jou so oorweldig dat jy alles kritiseer. Sy man se opmerking was nie aggressief of gemeen nie, maar in die kol toe hy sê: “Als is nie stukkend nie.”
Ons almal voel soms of dinge te veel raak en ons deur ons omgewing en omstandighede oorweldig word. Niemand van ons leef in ’n vakuum nie. Dinge en mense kan jou soms oorweldig en dan voel jy lus om jou tas te pak en na ’n piepklein eiland te trek om van die alledaagse stres en spanning weg te kom. Daai gevoel het ek nogal dikwels op ’n Maandag.
’n Mens moet egter baie seker maak dat jy nie van jouself af probeer wegtrek nie. Of jy nou op ’n klein verlate eiland jou heil gaan soek en of jy probeer sin maak van die lewe in jou bekende omgewing wat dikwels na vervelige roetine voel, van jouself kan jy nie wegkom nie. Op jou eiland gaan jy ook stres en spanning hê – weliswaar ’n ander soort, en dalk minder, maar jou lewe op die eiland gaan ook roetine, mense en gebeure behels. Ek praat eintlik met myself as ek sê mens moet versigtig wees om nie die spreekwoordelike gif te drink in die hoop dat die ander sterf nie.
Ek dink ons vergiftig onsself sonder dat ons dit weet en dan wonder ons hoekom ons sleg voel. Jy hoef nie Einstein te wees om te sien dat ons land nie ’n eerste prys gaan kry vir vooruitstrewendheid, vrede en veiligheid nie. Die toestand laat veel te wense oor en dit help niks en niemand om dit te ontken nie. Die probleem is, ’n mens kan só gefokus raak op dit wat jou pla, bekommer en kwaad maak dat jy blind is vir dit wat goed en gaaf is. As jy aanhoudend oor dieselfde goed kla en niks daaraan doen of kan doen nie, vat jy elke keer nog ’n sluk gif uit die bottel. Die gif gaan altyd daar wees – die besluit is joune of jy dit gaan drink al dan nie.
As dinge in die land vir jou te veel raak, moet jy ’n besluit neem om te keer dat jy in ’n ingesteldheid van woede, moedeloosheid en selfs haat verval. Ek neem niemand kwalik wat besluit om groener weivelde te gaan soek nie. As dit jou keuse is, doen dit. Die probleem is, om te emigreer is nie so eenvoudig nie. Jy’t geld en planne nodig. En dít is nie so maklik om te kry of te maak nie. As jy nie kan of wil trek nie, dan gaan dit niemand help as jy die hele tyd kla oor dit wat verkeerd is nie. Jy vergiftig jouself (en dalk ander om jou) deur herhaaldelik oor dieselfde goed te kla en bekommer. As jy in ’n oorlog is en die bomme val om jou, daar is nie kos of lopende water en elektrisiteit nie, gaan dit jou niks help om elke dag op te staan en te sê daar is nie kos of lopende water en elektrisiteit nie. Jou uiting van die probleem gaan nie die oorlog stop nie. Trouens, jy gaan in twee oorloë veg – die regte een en die een in jou kop.
Jy kan egter besluit om jouself moed in te praat en planne te maak wat jou kan bemagtig om ten spyte van omstandighede te oorleef. Ek het al soveel boeke gelees oor mense wat die gruwels van die konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog oorleef het. Deurgaans was dit hul ingesteldheid wat gehelp het dat hulle nie moed verloor nie. Aliza (Alice) Herz-Sommer was ’n briljante pianis wat Theresienstadt se konsentrasiekamp oorleef het en was die tweede oudste oorlewende van dié onmenslikheid toe sy in 2014 op 110 gesterf het.
Sy het onder die mees onmenslike omstandighede denkbaar ’n besluit geneem wat sy haar lewe lank haar motto gemaak het: “I look at the good. When you are relaxed, your body is always relaxed. When you are pessimistic, your body behaves in an unnatural way. It is up to us whether we look at the good or the bad.” As iemand in ’n konsentrasiekamp vir haarself kan sê als is nie stukkend nie, hoeveel te meer behoort ek dit vir myself te sê, én dit help nie as jy dít wat heel is ook nog in die proses breek nie, want dan is als inderdaad stukkend.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.