Die World Happiness Report vir 2018 is onlangs deur die Verenigde Nasies bekend gemaak
Op die lys van 156 lande is die toptienlande waar mense die gelukkigste is van een tot tien: Finland, Noorweë, Denemarke, Ysland, Switserland, Nederland, Kanada, Nieu-Seeland, Swede en Australië.
Van die kriteria vir die lys is: BBP per kapita, sosiale ondersteuning, gesonde lewensverwagting, sosiale vryheid, vrygewigheid en die afwesigheid van korrupsie. Jy hoef nie buskruit uit te gedink het om te weet Suid- Afrika is laag op dié lys nie – ons is nommer 105 (vier plekke laer as verlede jaar). ’n Mens wil nie hoop verloor nie, maar 105 uit 156 maak jou nie deel van die A-klas nie, trouens ek sou sê ons dop die toets.
Op ons webwerf (www.vrouekeur.co.za) het ons onlangs ’n 30-dae-positiwiteitsuitdaging geplaas juis omdat ’n mens nie elke dag ’n huppel in jou stap het nie, maar dit goed is om nou en dan weer aan die goeie dinge in jou lewe herinner te word.
Dag 1 Vir elke baie slegte scenario wat jy jou kan indink, dink aan die beste ding wat kan gebeur.
Dag 2 Bestee vyf minute om aan jou droomlewe te dink. Kan jy dit bereik? Wat moet jy doen om dit te bereik? Skryf die stappe neer.
Dag 3 Drink ’n koffie saam met ’n vriendin of gaan eet iets saam met ’n geliefde. Die idee is om iets lekkers te doen saam met iemand van wie jy hou.
Dag 4 Doen drie dinge om negatiwiteit uit jou lewe te sny. As sekere nuuswebwerwe jou nog slegter laat voel, moenie dit volg nie, ontvriend mense op Facebook wat jou mismoedig maak. Die drie dinge is: Unfollow, delete en remove!
Dag 5 Kies ’n positiewe mantra vir jou dag. As jy nie een kan uitdink nie, google een of loer na Vrouekeur se motiverende aanhalings op ons webwerf.
Dag 6 Gee vandag ’n opregte kompliment vir minstens drie mense.
Dag 7 As jy in die verkeer is of in ’n ry by ’n winkel staan, gebruik die tyd om aan die beste dinge in jou lewe te dink.
Dag 8 Skryf jou waardes neer. Wat in die lewe is vir jou belangrik?
Dag 9 Haal drie keer diep asem.
Dag 10 Kry jou endorfiene vir minstens vyf minute aan die gang. Spring trampolien saam met die kinders, dans, draf of gaan stap.
Dag 11 Doen iets onverwags gaaf vir iemand anders.
Dag 12 Reik uit na ’n vriendin of vriend en gesels ’n bietjie oor goeie tye saam.
Dag 13 Leer vandag iets nuuts by iemand anders.
Dag 14 Onthou dat ander mense se menings meer oor hulle as oor jou sê.
Dag 15 Doen vandag een goeie ding vir jouself.
Dag 16 Maak vandag oogkontak met mense wat verby jou loop en glimlag.
Dag 17 Maak vandag ’n punt daarvan om te lag. As iets jou irriteer, lag daaroor.
Dag 18 Mediteer of sit vir vyf minute stil.
Dag 19 Wat is die uitdagings in jou lewe? Wat dink jy kan jy daaruit leer?
Dag 20 Bevraagteken vandag negatiewe gedagtes. Kan die teenoorgestelde ook waar wees?
Dag 21 Doen vandag een eenvoudige ding wat jou hart bly maak – of dit nou verf, sing of tyd saam met jou mense is.
Dag 22 Leer meer oor ’n saak wat jou ná aan die hart lê en kyk hoe jy kan help.
Dag 23 Vul jou Facebook of Instagram vandag met ’n positiewe plasing. Volg iemand of ’n organisasie wat jou inspireer.
Dag 24 Gaan stap en kyk regtig na die dinge om jou.
Dag 25 Druk ’n positiewe aanhaling vir jou uit en sit dit iewers waar jy dit kan sien.
Dag 26 Luister na lekker musiek. Skep vir jou ’n positiewe speellys op jou foon en luister daarna as jy af voel.
Dag 27 Bel iemand met wie jy lanklaas gepraat het.
Dag 28 Skryf vir jouself ’n nota. Wat waardeer jy van jouself? Wat is fantasties oor jou?
Dag 29 Sê vandag dankie vir iemand wat jy baie waardeer.
Dag 30 Verander vandag iets aan jou voorkoms. Trek iets aan wat jy lanklaas aangehad het, koop vir jou ’n nuwe serp of laat jou hare sny. Kikker jouself op!
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.