Is minder meer? vra ons hierdie week in een van ons artikels
’n Ware minimalis is ek nie. In ’n dekortydskrif kan less is more vir my so mooi lyk, maar in my eie huis gaan dit na alle waarskynlikheid nie heeltemal vir my werk nie. Dit gesê, het ek besluit om 2018 ’n jaar te maak van onder meer die ontklotter van my lewe in die geheel. Tans is ek druk besig om ons huis te ontklotter, tot my geliefde se vreugde en verdriet. Hy jubel omdat daar nou minder goeters in die huis gaan wees, maar oor die proses is hy minder opgewonde.
Sien, ontklotter is nie altyd maklik nie. Daar is ’n uitgooi-hoop, ’n dit-bly-hoop en ’n ek-is-nie-seker-nie-hoop. Op die oomblik is daar dus heelwat van hierdie drie hope oral in die huis. Want jy ontklotter mos nie halfhartig nie. Die dit-bly-hoop word weer opnuut georden en weggepak en die ek-isnie- seker-nie-hoop raak inderdaad kleiner, maar bloot omdat dit van hoop verskuif – dan is dit op die uitgooi-hoop en twee dae later is dit weer op die dit-bly-hoop. Hoewel dit stadig gaan, is die proses vir my goed en ek raak al beter met my besluite. Die probleem is, as ek eers met iets begin, hou ek nie op voor dit klaar is nie en die projek groei algaande.
Wat as die ontklotter van die kombuis begin het, het geëskaleer tot ’n ontklottery van epiese formaat. Toe ek weer sien, is die kombuis se plafon weg, die teëls afgekap en die boonste ry kaste uitgehaal. Die geliefde het bykans op die plafon (as daar net een was) geklopdans toe hy ná ’n middagslapie op ’n Sondag in die kombuis kom en waar daar twee uur vantevore nog ’n kombuis met kaste was, was daar nou net ’n karkas oor. Hoewel ek die projek nie sonder sy wete aangepak het nie, moet ek erken dat die uithaal van die plafon nie deel van die oorspronklike gesprek was nie. Ek dink hy was eintlik ’n klein bietjie huilerig van kwaadgeit en moedeloosheid as ek eerlik moet wees. En ek was op my stukke (mos mal oor takies) en sielsaliggelukkig, want ek was so opgewonde oor die eindproduk en uiters trots op myself dat dié projek my bykans niks gaan kos nie. As ek sy reaksie moes opsom? Kom ons sê hy het nie my oorgawe en geesdrif heeltemal gedeel nie.
Dié situasie is twee dae later rustig, elk met ’n Martini in die hand (soos net hy dit kan maak), bespreek. In ’n kombuis wat lyk soos een in ’n dekortydskrif se before-foto. Jy hoef nie ’n Mensa-kandidaat te wees om te weet dat mense oor ’n klomp redes van mekaar verskil nie, waarvan een uiteraard ons eiesoortige persoonlikhede is. As ek ’n plan in my kop het, spring ek vinnig uit die wegspringblokke. Geliefde ondersoek eers die wegspringblokke, toets dit ’n bietjie, draai dit om en kyk hoe goed dit gemaak is, dink daaroor en dink weer daaroor. Teen daai tyd is ek al drie keer om die baan.
Is die een reg en die ander verkeerd? Is die een beter as die ander een? Nee. Gaan ’n mens soms in ’n verhouding koppe stamp? Ja. G’n twee mense kan ’n huis en ’n lewe deel sonder dat die een of albei in ’n stadium vies raak nie. In die woelige lewens wat ons boonop lei, vergeet ’n mens soms dat jou geliefde nie presies soos jy dink nie en dit kan tot misverstande lei. Is die kombuis klaar? Op die hond se stert, want later daai aand ná ons gepraat het, maar meer na mekaar geluister het, het ons Martini in die hand, saam-saam beplan en opgewonde geraak oor ’n projek in ons huisie. Verskil gaan ons verskil, maar dit gaan nie daaroor dát ’n mens jou vervies en vererg nie, maar dit gaan oor hóé jy dit doen. Dis die wonderlike van gesprek. As ’n mens werklik na mekaar luister en nie luister om te antwoord nie, maar luister om te verstaan, is dit moontlik om bykans enige verskil uit te sorteer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.