My pa het my baie wyse dinge in die lewe geleer. Een daarvan is: Jou geld kan opraak, jou planne moet net nie opraak nie
Hierdie wysheid het ek al etlike kere in my lewe toegepas. Weliswaar nie net as dit letterlik broekskeur gaan nie, maar meer dikwels metafories in situasies waar ek ’n toe deur of ’n klip in my pad teëgekom het. Hans Kriek se storie op bl 12 illustreer presies wat ek van my pa geleer het en bevestig dat ’n mens nie so maklik moet moed opgee nie.
Almal ken die gesegde wat John Lennon blykbaar toekom: Life is what happens when you are busy making other plans. Ek moes al dikwels my aanvanklike planne laat vaar en aan Plan B, soms selfs Plan Z dink om ’n deur oop te maak of ’n klip uit my pad te rol. Ek maak geen geheim daarvan dat ek groot bewondering vir sir Richard Branson het nie. Dié man is vir my ’n bewonderenswaardige voorbeeld van iemand wat hom nie deur die lewe laat onderkry nie en hoewel hy vandag nie die einde van sy geld ken nie, was dit nie altyd so nie.
Sy wyshede oor die lewe, sukses, medemenslikheid en integriteit in die sakewêreld staan my aan en het my al menigmaal gehelp om ’n plan te beraam. Hy is vir my ’n goeie voorbeeld van iemand wat nie opgee nie en goed weet ’n plan werk nie altyd uit nie en soms val jy plat, maar jy staan elke keer weer op. As ek wil opgee of moedeloos raak, dink ek ook aan die uiters suksevolle sakeman en uitvinder Thomans Edison wat gesê het: Ek het nie mislukkings gehad nie, ek het net agtergekom daar is 10 000 maniere wat nie werk nie. Hier is ’n paar van sir Richard se wyshede …
Om ’n sakeonderneming suksesvol te bedryf, beteken jy moet probleme kan oplos.
Om probleme op te los, beteken jy moet kan luister.
Ek dink nie aan werk as werk en speel as speel nie. Dit is als deel van om te lewe.
As jy jou droom volg en doen wat jou gelukkig maak, is die kans groter dat jy suksesvol gaan wees.
Sakegeleenthede is soos busse, daar is altyd ’n volgende een.
Die ondernemings wat in die toekoms gaan floreer, is dié wat ’n doelwit anderkant wins het.
Glo in jouself. Dink “ja” en nie “nee” nie. Leef voluit. Moenie moed opgee nie.
Kompleksiteit is jou vyand. Enige swaap kan iets gekompliseerd maak. Dis moeilik om iets eenvoudig te hou.
Moenie skaam wees oor jou mislukkings nie. Leer daaruit en begin van voor af.
As jy nie ’n verskil aan ander mense se lewens maak nie, moet jy nie in die sakewêreld wees nie – dis so eenvoudig soos dit.
Elke risiko is die moeite werd om te neem, solank dit vir ’n goeie doel is en tot ’n beter samelewing bydra.
Baie mense neem aan dat ek gelukkig is omdat ek finansieel suksesvol is. Maar ek sien dit andersom – ek is gelukkig en daarom is ek suksesvol.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.