Ongevraagde advies aan vriendinne se jong dogters
Tesame met die artikel in hierdie week se uitgawe oor tienerliefde wat blinder as ’n mol kan wees, moet ek een van die mense wat die skryfkursus op Lesbos meegemaak het, se onlangse Facebook-plasing met nog mense deel. Dit is gewoon briljant en ma’s (en pa’s) kan dit gerus vir hul dogters (en seuns) wys of as hulle nog piepklein is, bêre vir later.
Alma Kennedy se “ongevraagde advies aan vriendinne se jong dogters”:
Julle met gladde velletjies en rooi wange wat nie makeup nodig het nie en pruil op selfies saam met vriendinne met julle lang hare en kort broekies en strappy tops en wie se toekoms heerlik voor julle uitstrek, vir dié van julle wat ’n boyfriend oorweeg, wees neusoptrekkerig en kieskeurig en maak die somme:
GEWONE PUNTE
- Hy laat jou nie laatnag alleen uber nie.
- Hy raak moerig oor die vreemde geluide wat jou kar al drie weke lank maak en waaraan jy jou nie steur nie en hy vat jou motor ongevraagd in vir ’n diens en betaal dit.
- Hy dink vroue moet nooit hul vanne verander nie.
- Hy verstaan jy het jou eie vriende en ruimte en alleentyd nodig soos water en lug en nagereg.
- Hy drink nie te veel en wil dan bestuur nie.
- Hy is saam met jou bly wanneer jou loopbaan vlerke kry en ondersteun jou wanneer jy lang ure insit met studies en werk.
- Hy laat jou lag en jy bel hom eerste (ná jou ma natuurlik) met jou goeie en slegte nuus.
- Hy dra jou swaar tas en skuif jou meubels en vervang jou muurproppe sonder dat jy vra.
- Hy het ’n begroting en hou daarby en het ’n plan vir sy lewe.
- Hy pas ander mense se goed op soos sy eie. Hy kry nie stilstuipe nie en vat konflik head-on aan.
- Hy verduur jou beste vriendin se vervelige boyfriend en bly heelaand nice en ordentlik.
- Wanneer jou favourite tennisspeler in ’n final speel en jy kan nie kyk nie, WhatsApp hy die telling ná elke pot.
- Hy hou daarvan dat jy anders as hy is.
- Hy maak dat jy beter wil leef en beter wil doen.
- Hy is nooit aggressief nie.
BONUSPUNTE
- Hy dans.
- Hy is jou favourite travel partner.
- Hy lees novels.
- Hy is bedrewe met ’n stofsuier en wasmasjien.
- Hy kyk kunsflieks saam met jou sonder om te veel te sug of aan die slaap te raak of rond te skuif.
- Hy is ’n gentleman.
En Skatlam – die belangrikste – as hy 10 gewone punte en 2 bonuspunte kry, het hy ’n ma wat jy as skoonma wil hê. Meer kan ek nie saamstem nie en beter kon ek dit nie geskryf het nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.