Op bl 28 soek JB Roux antwoorde op die vraag: Hoekom het sommige mense selfvertroue (soms te veel) en ander nie?
Hy vra voorts: Kan ’n mens jou kind leer om selfvertroue te hê? En is selfvertroue die sleutel tot sukses? Die woorde “selfvertroue” en “sukses” word te dikwels eendimensioneel verstaan. Die HAT verduidelik “selfvertroue” onder meer as: vertroue in eie waarde/bekwaamheid en “sukses” as: vervulling van wat jy wou bereik/regkry. Dis nou net hier waar die probleem vir my lê: Buiten die woord selfvertroue is daar woorde soos selfversekerd, selfbeeld, en dan een wat jy nie in die HAT kry nie, maar een wat vir my die teenoorgestelde van minderwaardig is, is die woord selfwaarde.
Om selfwaarde te hê, is uiters belangrik. Jy moet van jouself hou, liefhê, in jouself glo … Dit dra onder meer by tot jou siening van jou eie waarde. Dis egter nie sinoniem met selfvertroue, selfbeeld, selfdunk en selfversekerdheid nie. As jy selfwaarde het, beteken dit nie outomaties dat jy die debatsvoorsitter, hoofprefek, primarius van jou koshuis, studenteraadsvoorsitter en CEO van die jaar gaan of wil word nie. Selfwaarde het niks te make met wat die samelewing (die een wat op die Amerikaanse model geskoei is) as “sukses” sien nie.
Van die “suksesvolste” mense het inderwaarheid ’n geweldige minderwaardigheidskompleks wat as selfversekerdheid en selfvertroue manifesteer. Selfvertroue en selfversekering skep by baie mense die illusie dat hulle die lewe verstaan, hanteer en die antwoorde het. Eweneens strook jou selfdunk en selfbeeld nie noodwendig met die prentjie wat jy by ander mense oproep nie. Meneer Trump se selfbeeld (wat hy graag met goud sou wou beslaan) en die beeld wat ek van hom het, is twee uiteenlopende prentjies. Selfwaarde is iets inherents en is nie gekoppel aan toekennings, pryse, ’n posisie of geld, wat ongelukkig gesien word as hoe meer en hoe hoër, hoe beter en hoe suksesvoller nie.
Mense wat die waarde van hul “self” besef en beskerm, is juis diegene wat hul “self” nie altyd vertrou nie of soms aan hul “self” twyfel en kan hul “self” bevraagteken en ondersoek. Mense met selfwaarde het ook selfrespek en behandel daarom intuïtief ander mense met waardigheid en respek. Selfvervulling is ook vir mense met selfwaarde belangriker as sukses soos dit aan ons voorgeskryf word. ’n Gebrek aan selfwaarde manifesteer in ’n oormaat of ’n gebrek aan selfvertroue, ’n verwronge selfbeeld (in jou oë is jy óf ’n god óf ’n mislukking). Eweneens manifesteer ’n besef van jou selfwaarde in ’n gesonde selfbeeld, wat bydra tot egte selfversekering en selfvertroue wat kan beteken jy behaal sogenaamde finansiële sukses.
Solank jy in gedagte hou dat selfbelangrikheid nie op die pad na sukses selfwaarde vervang nie. Die gemene deler tussen mense wat nie hul selfwaarde besef nie, is ’n gevoel van minderwaardigheid. ’n Minderwaardigheidskompleks waarna ons so graag verwys, is presies wat die woord sê. Dis kompleks, want as jy min van jou eie waarde besef, probeer jy dit vir ander mense (en jouself) verbloem agter ’n fasade van arrogansie, belangrikheid, hardkoppigheid, befoeterdheid, bravade … Of agter ’n fasade van beskroomdheid, onbelangrikheid, onvermoë en selfweersin. Die aanmatigende selfversekerdes en die selfafbrekende onbelangrikes voel almal minderwaardig – hulle probeer dit net verskillend wegsteek.
LEES OOK: 13 redes hoekom jy 20 Oktober se Vrouekeur moet koop
Die probleem is, mettertyd sien jy deur valse selfversekering en irriteer dié mense jou in so ’n mate dat jy later niks wat hulle doen of sê ernstig neem nie en niks met hulle te doen wil hê nie. Of jou geduld raak gewoon op om terapeut te speel vir diegene wat regtig so min van hulself hou dat jy hulle later begin glo omdat niks wat jy sê in elk geval hul selfwaarde ’n hupstoot gee nie. Dis veral diegene wat telkens oor dieselfde goed oor hulself of ander mense by jou wroeg, maar enige raad van die hand wys met ’n “Ja, maar …” Mense met ’n minderwaardigheidskompleks (in albei pole) is hul eie grootste vyande en albei soorte maak jou moeg. Hulle dreineer jou energie en ’n mens het net soveel energie per dag. Hoe kry ’n mens selfwaarde?
Dit help as jy van kleins af as waardig geag en met respek behandel word, maar dit is nie almal beskore nie en baie kinders word grootmense met jare se bagasie wat hulle bly saamdra. Die goeie nuus is, hoe sleg ookal jou kinderjare, jou egskeiding, jou bankrotskap, was … niks is permanent nie. Jy kan jou selfwaarde besef – al vat dit jou langer as ander. Dis dan wanneer dit vir jou sin maak as mense vir jou sê: Niemand kan jou minderwaardig laat voel as jy dit nie toelaat nie.
Miskien moet ’n mens die helingsproses begin deur te vra: Waar kom my minderwaardigheid vandaan? Is daardie omstandighede verby of leef ek steeds daarmee saam? Watter rol speel ek om my kinders hul selfwaarde te laat ontwikkel of dra ek my bravade of selfweersin oor aan hulle? As jy selfwaarde het, is jy gewis nie perfek nie en daar gaan mense wees wat nie van jou hou nie, maar as jy jou eie waarde besef, is jy jou eie grootste vriend.
Klik hier en vind uit wat is die 14 tekens van geestelik sterk mense.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.