In die mediawêreld wemel dit van jargon en begrippe soos beeldbemarking, teikenmark, visie, missie, prestasie, inkomste, netto wins, veldtog en digitale platforms is nou deel van ‘n redakteur se posbeskrywing.
Ten spyte van dié groot woorde is my hoofdoel in hierdie stoel om lesers waarde vir hul geld te gee en tot die bevordering van ‘n denkende en empatiese samelewing by te dra. Daarom fokus ons inhoud op substansie en as ons na ons lesertal kyk, slaag ons in ons doelwit. Ek deel dié week 20 lewenslesse van mense wat al langer as ek leef. Dit het my iets geleer
Die belangrikste mens in jou lewe is die een wat belowe het om jou lewe met jou te deel. Behandel hom of haar daarvolgens.
Jou lewe kan lank of kort wees – wie weet? Hoe ook al, glo my as ek sê dat jy sal wens jy het beter na jouself omgesien toe jy jonk was.
Goeters is net goeters. Moenie aan materiële dinge vasklou nie, plaas liewer ‘n premie op tyd en ondervindings.
Jaloesie vernietig verhoudings. Vertrou jou lewensmaat, want wie kan jy andersins vertrou?
Mense sê altyd, “Sorg dat jy ‘n werk kry waarvoor jy lief is!” Dis nie die beste advies nie. Die regte werk is die een waarvoor jy sommige dae lief is, meestal kan verdra, en wat jou jou rekeninge laat betaal. Amper niemand het ‘n werk waarvoor hulle elke dag lief is nie.
As die lewe jou oorweldig, moet jy net na die hede terugkeer en alles waardeer wat mooi en bevredigend is. Haal diep asem en ontspan.
Jare gaan in ‘n oogwenk verby. Moenie jonk trou nie. Leef voluit. Reis baie. Doen dinge. Of jy geld het of nie. Pak ‘n sak en gaan iewers wat jy kan bekostig. Moenie goed koop terwyl jy geen afhanklikes het nie. Enige goed. Gaan sien die wêreld. Blaai deur reistydskrifte en kies ‘n plek. GAAN!
Moenie die lewe so ernstig opneem nie. Selfs wanneer dinge donker en hopeloos lyk, kan jy probeer om te lag oor hoe absurd die lewe is.
Ware vriende sal dadelik kom as jy hulle twee-uur in die oggend bel. Al die ander is net kennisse.
Kinders word heeltemal te vinnig groot. Maak die beste gebruik van die tyd wat jy met hulle het.
Niemand wat op sterwe lê, wens hulle het meer gewerk nie. Werk hard, maar moenie werk bo familie, vriende of jouself ag nie.
Eet en oefen asof jy ‘n diabetiese hartpasiënt met beroerte is – só is die kans skraler dat jy een word.
Hierdie een is dalk nie so diep soos die ander nie, maar ek dink dis belangrik … Vlos gereeld, tandprobleme is aaklig.
Moenie ander mense se advies as die absolute waarheid aanvaar nie. Jy kan raad vra van iemand wat jy respekteer, maar neem dan jou omstandighede in ag en besluit self. In effek is my advies dat jy jou eie advies moet volg …
Die gewrigte wat jy vandag beseer, sal later wraak neem. Selfs as jy dink hulle het volkome herstel. GLO MY!
Ons het net een kans op die aarde. Moenie wakker word en agterkom dat jy 60 jaar oud is en nooit gedoen het waaroor jy gedroom het nie.
Waardeer die klein dingetjies in die lewe en neem die oomblik waar. Wat bedoel ek? Wel, die jonger geslag is blykbaar net uit op onmiddellike bevrediging. Probeer eerder elke klein oomblik waardeer. Ons bly nie vir altyd op hierdie malle/wonderlike planeet nie, en ons kan die meeste genot uit die mees alledaagse dinge put. Bel iemand liewer as om ‘n SMS of WhatsApp te stuur. Bel jou ma of pa en praat oor ditjies en datjies. Dié oomblikke is die waardevolles.
Betaal jou rekeninge en bly ver weg van skuld. As ek al die geld wat ek oor die jare aan rente betaal het, aan myself sou betaal het, het ek vroeg afgetree.
As jy daarvan droom om iets te wees of te doen wat onmoontlik lyk, pak dit nogtans aan. Dit sal net al hoe onmoontliker word hoe ouer jy word en vir ander mense verantwoordelik word.
Wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet, skep ‘n bietjie asem en besef dat jy inderdaad niks oor hom of haar weet nie. Wat jy sien, is ras, geslag, ouderdom en klere. Vergeet daarvan. Jy weet niks. Die vooropgestelde idees wat in jou opkom omdat jou brein van kategorieë hou, beperk jou lewe en ander mense se lewens.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.