Daar is heelwat dinge, gebeure en menstipes wat my hoegenaamd nie aanstaan nie. Boelies, wat menstipes betref, is bo-aan my lys
Daar is nie ’n verskil tussen die kinderboelie op die skoolgrond en die volwasse boelie in enige situasie nie. Boelies is oral op enige ouderdom en enige plek. Daar is mense wat meen mens moet gaan kyk wat ’n persoon se boeliegedrag veroorsaak het. Toegegee, daar kan ’n magdom redes daarvoor wees en vir geen oomblik dink ek ’n boelie word ’n boelie gebore nie.
Omstandighede, mense en ervarings het ’n groot invloed op ons lewens en as ’n kind in ’n situasie grootword wat boeliegedrag voed, gaan dit ’n invloed hê. Dit gesê, is daar mense wat in dieselfde situasies nie boelies word nie. Daarom kan ek nie aanhou om ’n boelie oor sy of haar omstandighede te verdedig nie. In ’n stadium moet ons almal verantwoordelikheid neem vir hoe ons teenoor ander mense optree, ongeag ons geskiedenis.
Ek dink ons almal het al onder boelies deurgeloop. Wat ek mettertyd geleer het, is dat ’n boelie net bravade is. Dis dit. Daar is geen substansie nie. Ek het weliswaar al agtergekom dat boelies op hul hurke gaan sit as jy hulle teenstaan. Ongelukkig word hulle te min teengestaan of hulle is in ’n sogenaamde magsposisie en jou teenstand kan lelik boemerang. En ’n boelie weet dit. Dis hoekom niemand enige boelie se gedrag moet duld nie.
Op bl 26 kyk ons na boelies in ’n werksituasie. Ja, die boelie in graad 1 het grootgeword en is nou ’n ryk en belangrike man of vrou en die stelsel gee die groot boelie nou bykans carte blanche om links en regs te boelie. Hulle word betaalde, professionele boelies. Dit is ’n dilemma, want nege uit tien keer is dié wat geboelie word, te bang om die boelie te konfronteer of teen te staan. Kwame Alexander is ’n Amerikaanse digter en skrywer van kinderfiksie en ek dink sy siening kan menige geboeliede baie help. Of jy nou by die huis, by die werk of jou kind by die skool geboelie word, onthou wat hy oor dié lafaards sê:
“Bullies don’t like to fight, son. They like to win. Being afraid is normal. The only fight you really have to win is the one against the fear.”
Die oomblik as jy jou vrees vir die boelie oorwin, is jy nie meer bang vir dit wat kan gebeur nie. En boelies hou niks daarvan nie, want jou vrees gee hulle mag. Moenie hulle mag gee nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.