Kyk ons nie dikwels in die alledaagse lewe vas in ons eie persoonlike oorloë wat ons tot die bitter einde wil veg nie?
Die Brit, Henry John Patch, was 111 jaar, 1 maand, 1 week en 1 dag oud met sy afsterwe op 25 Julie 2009. Patch was die langslewende vegsoldaat van die Eerste Wêreldoorlog. Dié man het ’n lang tyd gehad om te dink oor die oorlog waarin hy as jong man geveg het en sy afkeer van oorlog het hy duidelik te kenne gegee: “Ek weet nie waaraan om my verligting aan die einde van die oorlog toe te skryf nie. Die feit dat ons gewen het of dat ek nie verder hoef te geveg het nie.” “Passchendaele was ’n katastrofale veldslag – duisende jongmense het gesterf.
Dit maak my kwaad. Vroeër hierdie jaar is ek terug na Ypres toe om Charles Kuentz, Duitsland se enigste oorlewende veteraan van die oorlog, se hand te skud. Hy is 107. Ons het 87 jaar gehad om oor die oorlog te besin. Vir my is oorlog om met toestemming moord te pleeg. Hoekom kon die Britse regering my oproep en slagveld toe stuur om ’n mens te skiet wat ek nooit geken het nie en wie se taal ek nie kan praat nie? Al daai verlore lewens vir ’n oorlog wat rondom ’n tafel beëindig is. Wat is die sin daarvan?”
Tydens Patch se begrafnis het die chargé d’affaires van die Belgiese ambassade, Marie-France André, ’n paragraaf uit Patch se boek, The Last Fighting Tommy, voorgelees: “Ek onthou hoe ons op ’n ou van Akompanjie afgekom het. Hy was sterwend in ’n poel bloed en het gesmeek: ‘Skiet my.’ Hy is dood voor een van ons iets kon doen. Sy laaste woord was: ‘Mamma.’ Ek onthou daardie jong man spesifiek. Dis ’n beeld wat my hele lewe lank al by my spook. Dis in my geestesoog ingebrand.” Op Patch se begrafnis het die klokke van die Wells-katedraal 111 keer gelui en die tema van die diens was “vrede en versoening”. Sy kis is gedra deur twee soldate elk van die Belgiese, Franse en Duitse weermagte.
Op instruksie van Patch is geen gewere by sy begrafnis toegelaat nie, selfs nie seremoniële gewere nie. ’n Skamele 20 jaar ná die Eerste Wêreldoorlog het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek en vandag, 73 jaar ná die beëindiging daarvan, woed daar steeds wêreldwyd oorloë. Die Amerikaanse fotojoernalis en dokumentêre fotograaf, Aaron Huey, sê oor oorlog: “War is the greatest failure of mankind.” So was die provinsie Aceh, in Indonesië, van 1975 tot en met 26 Desember 2004 in ’n bloedige burgeroorlog gewikkel. Toe tref ’n tsoenami Aceh. Binne minute is bykans 130 000 mense in ’n siedende watermassa van 30 m teen 850 km per uur voor die voet afgemaai. Niks en niemand is nié deur hierdie ramp geraak nie.
’n Oorlog van bykans 30 jaar is binne oomblikke beëindig en ’n vredesooreenkoms is kort ná die ramp, in 2005, gesluit. Vandag heers daar vrede – die tsoenami het die partye versoen. Die strydbyle het in die gelykmakende watermassa verdwyn. Dis ironies dat ’n katastrofale natuurramp mense laat besef het wat die kosbaarheid van die lewe is en dat oorlog, soos Patch gesê het: “… niks anders as georganiseerde moord [is] nie.” Kyk ons nie dikwels in die alledaagse lewe vas in ons eie persoonlike oorloë wat ons tot die bitter einde wil veg nie? Dalk moet mens jou strydbyl weggooi voor ’n werklike ramp van katastrofale proporsies jou tref en jy dan eers die sinloosheid van baklei besef.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.