“Mag ons maar ons kinderjare blameer?” op bl 14 het my aan die dink gesit vir hierdie week se skrywe
Ons almal het die een of ander issue met iets uit ons kinderjare. Sommige mense dra swaarder aan dié bagasie as ander. Daar is mense wat gemeet op ’n skaal van een tot tien, die skaal se naald ver bo tien laat styg. Wêreldwyd is daar kinders wat aan sulke wrede ouers blootgestel is dat die trauma bykans onomkeerbaar is.
Nie alle mense moet kinders hê nie. “Normale” ouers doen nie sulke goed nie. Maar ouers is mense en ouers maak “foute”. Dit besef ek op 58 alte goed. Is daar goed wat ’n impak op my as kind gehad het? Ja. Is daar goed wat ek gedoen het wat ’n impak op my kinders gehad het? Ja. Geen normale ouer doen doelbewus iets aan hul kinders om hul skade te berokken nie. Terugskouend sou ons almal redakteursbrief sekere voorvalle anders hanteer het. Diegene van ons wat nie aan monsters in ons kinderjare blootgestel is nie, kan ons nie indink in die trauma en verreikende gevolge daarvan nie. Maar die gelukkiges, waarvan ek en my broers (en my kinders) deel is, hoef nie vir die res van ons lewens te wroeg oor dinge in ons kinderjare wat dalk uit onkunde gedoen is en onbewustelik ’n merk gelaat het, nie.
Dis as jou kinders volwasse is en jy uit openlike gesprekke agterkom jy was toe nou nie elke dag van jou kinders se lewe Ma van die Jaar nie. Dit laat my dink aan ’n gesprek met my oudste broer ’n paar jaar gelede oor menswees in die algemeen en die bagasie wat ons soms onnodig met ons saamdra. Ons al vier kinders het ’n geneigdheid om intens en passievol ons punt te probeer maak. So sê hy tydens ons gesprek oor mense wat in “normale” huise grootgeword het en steeds vashaak by dit wat hulle as erg en traumaties beleef het: “Dis verby.” Soms haak ons vas by iets wat verby is en dra ons ons dood aan bagasie wat ons nie nodig het nie.
Dis soos om op ’n oorsese vakansie te gaan en heeltemal te veel klere in te pak. Vir die wis en die onwis. Daai tas tussen stasies, lughawens en taxi’s kan jou knak. Vra my, ek weet. Dit het gevoel asof ek met ’n ysterbal aan ’n ketting om my been reis. Daar het ek gesweer dis die laaste keer. Nooit (en ek weet dis ’n lang tyd) reis ek weer met baie goeters in ’n groot tas nie. Jy het nie nodig om jou hele klerekas in te pak nie. Glo my, ek het nog nie weer nie. Ek pak min klere in ’n klein tassie en reis lig en maklik sodat die hele reis een groot avontuur is. As ’n mens jou kinderjare boots and all in ’n groot tas pak en op jou lewensreis saamsleep, gaan jy iewers langs die pad dalk knak.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.