Die punt is ons almal bekommer ons oor goeters. Sommige meer so as ander
Stel jou voor jy sit in ’n Amerikaanse tronk nadat jy op aanklag van spioenasie vir die destydse Sowjetunie gearresteer is. Die beste waarop jy kan hoop, is lewenslange tronkstraf, want eintlik is die doodstraf die prys vir die oortreding.
Dis presies die situasie waarin Rudolf Abel homself in 1957 bevind het. Sy prokureur, James B Donovan, was verbysterd om sy kliënt se kalmte te midde van dié penarie waar te neem. In die fliek, Bridge of Spies, wat oor hierdie historiese gebeurtenis handel, sê Donovan (Tom Hanks) aan Abel (Mark Rylance): “You don’t seem alarmed,” waarop Abel sê: “Would it help?” Telkens wanneer ek my oor iets bekommer, herinner ek myself aan Abel se woorde, veral wanneer ek bekommerd is oor goed wat nog nie gebeur het nie of wel gebeur het, maar wat nie die dood van Katryn is nie.
Die punt is ons almal bekommer ons oor goeters. Sommige meer so as ander. Vroeër jare was ek geneig om die bobbejaan agter die bult te gaan haal. Gelukkig leer mens met die verloop van tyd, en in die vyfde dekade van my leeftyd wend ek ’n doelbewuste poging aan om nie oor als en nog wat te stres of te bekommer nie, want dit help nie. Sommige dae kry ek dit beter reg as ander. Op soek na die presiese woorde in die gesprek tussen Donovan en Abel op die internet, het ek nog ’n paar interessante aanhalings oor bekommernis raakgelees.
Bekommernis is soos ’n skommelstoel. Dit gee jou iets om te doen, maar dit bring jou nêrens nie – Anoniem
Moenie elke kommerwekkende gedagte glo nie. Sulke gedagtes is berug vir hul onakkuraatheid – Renee Jain
Om jou te bekommer, beteken jy ly twee keer – Newt Scamander
Bekommernis is om jou verbeelding te gebruik om iets te skep wat jy nie wil hê nie – Abraham Hicks
’n Dag se bekommernis is uitputtender as ’n week se werk – John Lubbock
Om jou oor dinge te bekommer, vat nie môre se probleme weg nie. Dit vat wel vandag se krag en energie weg – Corrie ten Boom
Bekommer jou elke dag ’n bietjie oor iets en in ’n leeftyd verloor jy ’n paar jaar van jou lewe. Wanneer iets verkeerd of ’n probleem is, maak dit reg of kry ’n oplossing as jy kan. Oefen om nie te bekommer nie, want bekommernis maak niks reg nie – Mary Hemingway
Bekommernis gee dikwels aan iets kleins ’n groot skaduwee – Anoniem
Ek het nie baie slaap gekry nie, maar ek het ’n goeie paar uur van bekommernis ingekry – Anoniem
Hou op om te dink die wêreld gaan môre eindig – dis reeds môre in Australië – Charles Schulz
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.