Elke jaar dié tyd sê ons: “Kan jy glo dis al Desember?
Die jaar het gevlieg!” Kersversierings is oral te sien, Jingle Bells speel luid in winkels en ons werk teen die tempo van wit lig om als klaar te kry voor die kantoor vir ’n kort vakansie sluit. Wêreldwyd, maar ook op persoonlike vlak, was 2018 gewis nie ’n gelykmatige jaar nie. As ek ’n grafiek van die jaar se gebeure moes trek, sou die lyn nie effense op- en afwaartse lyne toon nie, want 2018 se merkers het nie in ’n reguit lyn geloop nie.
Die jaar was inderdaad gebeurtenisvol. Natasha en Dané, twee van ons geliefde kollegas, het hierdie jaar getrou en ons het hul lieflike foto’s op hierdie blad gedeel. As jy vir my verlede jaar hierdie tyd gesê het daar gaan ’n derde troue in die VK-span wees, het ek gesê die kanse is skraal. Dié storie begin so … Jare gelede, as kind in die Sondagskoolklas het die storie van Lea en Ragel, Laban se twee dogters, vir my geen sin gemaak nie. In die Hebreeuse Bybel, die Tora, en die Ou Testament in die Christelike Bybel, is die storie dieselfde.
Laban se dogter Ragel word aan Jakob as bruid beloof, sou hy sewe jaar vir haar (maar eintlik vir Laban) werk. Laban beraam ’n skelm plan en Jakob trou toe al die tyd met Lea sonder dat hy dit weet, want hy het haar nie agter haar sluier herken nie. Tot Jakob se onsteltenis moet hy ’n verdere sewe jaar vir Ragel werk om ook met haar te kon trou. Dié storie het my op baie vlakke gepla:
1 Hoe kies ’n pa vir ’n dogter ’n man? (Jy moet mos self kies met wie jy wil trou.)
2 Hoekom moet ’n mens vir die pa werk om met die dogter te trou? (In my geestesoog het ek gesien hoe die arme Jakob vir 14 jaar lank swoeg en sweet. Ek het gedog hy mag nie eens vir Ragel in dié tyd gesien het nie.)
3 Hoe kon Jakob nie deur die sluier sien dis Lea nie? (In my kop was die sluier ’n deursigtige wit sluier soos ’n moderne Westerse bruid sou dra en ek het geen idee gehad dat vroue behoorlik besluier was nie – soos sekere Moslemvroue vandag nog bedek is.)
4 Hoe kon ’n mens twee vroue tegelykertyd hê? (Gits, egskeiding was dan ’n taboe daai tyd. Mense is uit poste geskors as hulle geskei en weer getrou het – laat staan twee vroue tegelykertyd!)
5 As ’n mens sewe jaar moet werk om te trou en dan om die bos gelei word en dan weer sewe jaar moet werk om met die vrou van jou drome te trou, is jy stokoud teen die tyd wat die 14 jaar verby is. ’n Jaar in ’n kind se lewe is langer as in ’n grootmens se lewe. Wat ons nie in die Sondagskoolklas geleer het nie, is dat hierdie storie nie sin gemaak het nie omdat ons nie die kultuurgeskiedenis daarmee saam geleer het nie.
Ons wêreld as kinders was vir ons die enigste wêreld en dié storie het nie daarin gepas nie. Dis ’n debat vir ’n ander keer. Wat het hierdie storie met my storie te doen? Een van die gebeurtenisse in 2018 in my persoonlike lewe, is dat ek toe die derde VK-spanlid is wat dié jaar getroud is. Op 7 November vanjaar het ek en my geliefde besluit om ons liefde van die afgelope 14 jaar (dit het verbygevlieg!) amptelik te maak. Anders as Jakob, het Johannes geweet met wie hy trou, het ons mekaar gekies en werk ons saam aan ’n liefdesverhouding wat ons koester, en ons is glad nie oud nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.