Ek is weer terug op my pos ná drie wonderlike weke in Griekeland waartydens die res van die Vrouekeur-span die wa deur die drif getrek het
Trouens, dié span vroue trek nie net ’n wa deur ’n drif nie, hulle bou sommer eiehandig ’n brug om oor enige rivier te kom. Ek kon met ’n geruste hart vakansie hou. Wanneer mens met vakansie is, het jy tyd om te dink. Jy is sonder werksdruk, stres, verpligtinge en het genoeg ure in jou dag. Hoe ouer mens word, hoe meer besef jy dat elke dag belangrik is. Wanneer mens tyd het om te dink, kan jy jou lewe in oënskou neem, raak dinge vir jou helder en kry jy perspektief.
Ek het net weer eens hierdie vakansie besef dat die belangrikste dinge in die lewe jou verhouding met jou geliefdes is en dat mens moet werk om te leef en nie leef om te werk nie. Te dikwels laat ons toe dat die alledaagse ons so oorweldig dat ons vergeet om te leef. En voor ons ons oë uitvee (of dan nou toemaak) sterf ons. Marcus Aurelius het toentertyd al dié wyse woorde gehad: Dis nie die dood waarvoor ons bang moet wees nie, ons moet bang wees dat ons nooit geleef het nie.
Benjamin Franklin het gesê: In hierdie lewe is die enigste twee dinge waarvan ons seker kan wees, dood en belasting, en nog ’n Amerikaner, Will Rogers, (1879–1935) het oor dié twee onderwerpe gesê: Die enigste verskil tussen die dood en belasting is dat die dood nie elke keer erger word as die kongres in sitting is nie. Ons almal sterf. Dis ’n feit. Dit maak nie saak hoe briljant, hoe mooi, hoe ryk, hoe suksesvol, hoe gesond, hoe gelukkig jy is nie, dit maak ook nie saak hoeveel mag jy het of watse werk jy doen nie.
Mense wat goed aan ander gedoen het terwyl hulle op aarde was en mense wat verskriklike goed gedoen het terwyl hulle op aarde was, loop almal dieselfde pad – dink maar aan die slimme Einsteins en die afgryslike Hitlers. Voor mens sterf, moet jy ’n paar dinge in ag neem:
Het jy regtig geleef voor jy gesterf het?
Het jy só geleef dat jy van die wêreld ’n beter plek gemaak het?
Hoe wil jy onthou word?
Soos Leonardo da Vinci in sy tyd gesê het: ’n Dag wat jy goed deurgebring het, bring ’n rustige nagrus. Net so bring ’n lewe wat jy goed deurbring, ’n rustige dood. Die digter WH Auden het oor die dood, wat deel van die lewe is, gesê: Dood is die veraf gedreun van donderweer terwyl jy piekniek hou. En dan is daar Anne Frank wat in haar kort leeftyd gesê het: Ek wil nie soos die meeste mense tevergeefs geleef het nie. Ek wil van nut en vreugde vir mense wees, selfs diegene wat ek nog nooit ontmoet het nie. Ek wil aanhou leef, selfs ná my dood. Dít het sy reggekry. Só onthou ons haar.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.