My man, die vreemdeling, is die artikel wat my hierdie week noop om iets te skryf
Ons almal ken die prentjie. ’n Man en vrou sit by ’n tafel in ’n restaurant en sprak geen sprook met mekaar nie. Is die kinders by, praat die ouers deur die kinders met mekaar. Pappa en Mamma het vreemdelinge vir mekaar geword. Hoe gebeur dit? Maklik. Die eise wat die alledaagse lewe aan ons stel, manifesteer dikwels in woede, aggressie en teleurstelling wat lewensmaats op mekaar uithaal.
So ’n ruk gelede vertel my geliefde my van ’n gesprek wat hy op RSG gehoor het op pad huis toe. Dis wat ons doen as ons ná werk by die huis kom. Hy sit musiek aan, ek steek wierook aan, een van ons twee gee die katte kos en hy skink vir hom ’n whiskey en vir my ’n G&T. En dan gesels ons, soos ons nou al vir 14 jaar wat ons bymekaar is, doen. Ons stem nie altyd oor als saam nie en ons dink nie dieselfde oor als in die lewe nie, maar soos iemand lank gelede gesê het: Die doelwit van ’n goeie verhouding is nie om presies dieselfde te dink nie, maar om saam te dink.
Glo my, dit is een van die boustene van ’n gelukkige verhouding. Ek praat uit ondervinding – ek en my geliefde kom uit vorige verhoudings waar die vervreemding van so ’n aard geraak het dat skeiding onvermydelik was. Egskeiding is nooit maklik nie. Daar is nie wenners en verloorders nie en alle betrokkenes sit met wonde. Gelukkig heel tyd wonde en wonde word littekens waarvan sommige mettertyd nie meer sigbaar of pynlik is nie. Dit geld vir die ouers wat skei en die kinders wat deel van dié besluit is, maak nie saak hoe groot of hoe klein hulle is nie. Egskeidingstatistiek is ’n barometer van die stand van ongelukkigheid in verhoudings. Dis hoog, maar dit sluit uiteraard nie ongelukkige verhoudings in waar egskeiding om welke rede ook al nie ’n moontlikheid is nie.
Ek predik nie noodwendig egskeiding nie, maar hoe sleg is dit om vasgevang te wees in ’n verhouding wat jou sielsongelukkig maak? Maak nie saak wat die redes is nie, en daar is altyd twee kante, want daar is twee mense betrokke. Maar ’n mens moet jouself vra hoe lank kan jy in ’n ongelukkige verhouding bly? Ek is een van diegene wat graag sê: Die lewe is te kort, moenie tyd op nonsens mors nie. Dít bring my uit by ons gesprek oor whiskey en G&T. Amore Bekker het ’n storie uit haar verlede vertel, wat op sigself baie interessant is, maar dis nie dié storie wat ek hierdie week wil deel nie.
Dis veral die laaste gedeelte van die storie wat my tussen die oë getref het. Sy het vertel van ’n vriend wat baie vir haar beteken het ná die verlies van haar geliefde in ’n vliegongeluk. Dié vriend het in ’n stadium in haar proses om haar verlies te verwerk vir haar gesê: Die lewe is te lank om ongelukkig te wees. Soms moet ’n mens terugsit en nadink oor hoe kort, maar ook hoe lank die lewe is. Die ritueel van ’n whiskey en ’n G&T saans ná werk saam met my geliefde, is een van die vele dinge in my verhouding wat my baie gelukkig maak.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.